| |||||
Volkslied: Государственный гимн Российской Федерации (Russies vir: "Nasionale Volkslied van die Russiese Federasie") | |||||
Hoofstad | Moskou | ||||
Grootste stad | Moskou | ||||
Amptelike tale | Russies1 | ||||
Regering | Federale semi-presidensiële grondwetlike republiek Wladimir Poetin Michail Misjoestin | ||||
Onafhanklikheid Vorming
• Slovensk en Staraya Rusa • Rjoerik-dinastie • Kiëf-Roes • Wladimir-Soezda-Roes • Moskowië • Tsaredom van Rusland • Russiese Ryk • Russiese SFSR • Sowjetunie • Russiese Federasie • Huidige grondwet |
2395 v.C.[1] 862 882 1169 1283 16 Januarie 1547 22 Oktober 1721 6 November 1917 10 Desember 1922 25 Desember 1991 12 Desember 1993 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
17 098 2462 (sonder Krim en Sewastopol)[2] km2 (1ste) 6 601 670 myl2 13[3] (insluitende moerasse) | ||||
Bevolking - 2022-skatting - Digtheid |
147 182 123[4] (insluitende Krim en Sewastopol) (9de) 8,4 / km2 (181ste) 21,8 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,822[6] (52ste) – baie hoog | ||||
Gini (2020) | 36,0[7](98ste) – medium | ||||
Geldeenheid | Roebel (RUB )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
(UTC+2 tot +12) nie toegepas nie (UTC+2 tot +12) | ||||
Internet-TLD | .ru .su .рф | ||||
Skakelkode | +7 | ||||
1. 27 andere inheemse tale word sedert 1991 in verskeie streke as amptelike tale erken. 2. met Krim en Sewastopol is Rusland se oppervlakte 17 125 191 km² (6 612 073 myl²).[8] |
Rusland (Russies: Росси́я, Rossija, [rɐˈsʲijə], ), amptelik die Russiese Federasie (Russies: Росси́йская Федерaция, Rossijskaja Federatsija, [rɐˈsʲijskəjə fʲɪdʲɪˈratsɨjə], ), is 'n land wat gedeeltelik in Europa en gedeeltelik in Asië lê. Die land lê egter vanuit 'n politieke oogpunt in Europa omdat die belangrikste deel, ook die hoofstad, Moskou, Europees is en sowat 70 persent van die bevolking daar woon.
Met sy oppervlak van 17 098 246 km² is Rusland by verre die grootste land ter wêreld, byna twee maal so groot soos die tweede grootste land, Kanada. Dit grens aan (antikloksgewys van NW na SO): Noorweë, Finland, Estland, Letland, Litaue, Pole, Belarus, Oekraïne, Georgië, Azerbeidjan, Kasakstan, die Volksrepubliek China, Mongolië en Noord-Korea. Verder is dit deur 'n see of smal seestraat geskei van die Verenigde State van Amerika (Alaska), Kanada, Turkmenistan, Iran, Turkye, Swede en Japan.
Die moderne Russiese landsnaam Rossija vir Rusland het sy oorsprong in die Griekse weergawe Rossia van die historiese Oos-Slawiese benaming Roes (Rus) vir gebiede in die huidige Europese state Rusland, Belarus en Oekraïne wat deur Slawiërs bewoon is. Die vroegste bewoners het hulle sowat 100 000 jaar gelede in die weste van moderne Rusland gevestig. Voordat Slawiese groepe hulle vanaf die 6de eeu n.C. vanuit hul stamland in noordelike en suidelike rigting begin uitbrei het, is die noorde van Ruslad deur Fins-Oegriese en Baltiese volke bewoon, terwyl Indo-Europese steppevolke soos Koergan, Kimmerers, Skitiërs, Sarmate en Alane hulle in die suidelike streke gevestig het. Hulle is later opgevolg deur Grieke, Gote, Hunne en Aware.
Die oorspronklike Slawiese stamgebied was tussen die noordelike en suidelike streke in 'n gebied geleë wat rofweg deur die riviere Dnjepr en Boeg begrens is. Skandinawiese Wikings het vanaf die 8de eeu Oos-Europese riviere as krygers en handelaars bevaar en hulle hier met die Slawiese meerderheidsbevolking begin vermeng. Hierdie krygerkooplui, na wie ook as Waragiërs of Roes verwys word, het onder leiding van hul legendariese aanvoerder Rjoerik grootliks bygedra tot die stigting van die eerste Oos-Slawiese staat Kiëf-Roes met vroeë stedelike sentra in Nowgorod (gestig in 862) en Kiëf (tans Kijif, 879). Hul handelsbetrekkinge het tot Konstantinopel gestrek.
In die suidelike steppelandskappe en langs die Wolgarivier het Turkvolke uit Asië - Chasare en Wolga-Bulgare - ryke gestig wat handel gedryf het met die Roes, maar ook oorlog teen hulle gevoer het. Noue betrekkinge met die Bisantynse Ryk het grootliks bygedra tot Kiëf-Roes se aanvaarding van die Ortodokse Christelike geloof in 988.
Kiëf-Roes het uiteindelik verbrokkel en in talle klein feodale Russiese state verdeel. Die belangrikste hiervan was die Groothertogdom van Moskou of Moskowië. Moskou het mettertyd die omringende Russiese prinsdomme herenig en die plek van Kiëf-Roes ingeneem. Teen die 18de eeu het die land begin uitbrei en tot die groot en multi-etniese Russiese Ryk ontwikkel wat gestrek het van Pole in die weste tot die Stille Oseaan.
In die 20ste eeu het Rusland as die Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (RSFSR) die kernland gevorm van die Sowjetunie, die wêreld se eerste en grootste grondwetlik sosialistiese staat en saam met die Verenigde State van Amerika een van die wêreld se twee supermoondhede. Toe die Sowjetunie in 1991 verbrokkel, is die Russiese Federasie gestig as sy de jure-opvolger. Rusland is 'n permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en 'n voorste lid van die Gemenebes van Onafhanklike State (GOS) en die G8 (deelname tans opgeskort).
Die binne- en buitelandse beleid van die Russiese Federasie word in die 21ste eeu deur twee kwessies oorheers. Die demokratiseringsproses in die Russiese binnelandse beleid het tot stilstand gekom, terwyl die land op internasionale vlak pogings onderneem om sy historiese status as grootmoondheid te herwin. In 'n multipolêre wêreld, waar die Volksrepubliek China dieselfde aspirasies huldig, maar met 'n veel groter en meer gevorderde industriële basis, is sulke verwagtinge moontlik te hoog gestel. Met die Verenigde State as grootskaalse netto-energie-uitvoerder, onder meer van vloeibare gas, is daar intussen 'n strawwe mededinger op Rusland se belangrikste uitvoermarkte, alhoewel die land se grootste gasuitvoerder Gazprom tans op die Europese mark nog substansiële kostevoordele bo Amerikaanse produsente geniet.[9]