| |||||
Nasionale leuse: Semper progrediens (Latyn vir: "Vorder altyd") | |||||
Volkslied: O Sweet Saint Martin's Land (Engels vir: "O lieflike land van Sint Maarten") Koninklike volkslied: Wilhelmus | |||||
Hoofstad | Philipsburg | ||||
Grootste stad | Lower Prince's Quarter | ||||
Amptelike tale | Nederlands en Engels[1] | ||||
Regering | Unitêre parlementêre verteenwoordigende demokrasie onder 'n grondwetlike monargie Willem-Alexander Ajamu Baly Luc Mercelina | ||||
Onafhanklikheid Outonomiteit
• Datum |
binne die Koninkryk van die Nederlande 10 Oktober 2010 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
34[2][3] km2 13 myl2 feitlik geen | ||||
Bevolking - 2023-skatting - 2011-sensus - Digtheid |
42 938[4] (187ste) 33 609 1 221 / km2 (10de) 3 162,4 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2022-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2022-skatting $1,537 miljard[3] | ||||
Geldeenheid | Nederlandse Antille-gulden (ANG )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
AST (UTC-4) nie toegepas nie (UTC-4) | ||||
Internet-TLD | .sx | ||||
Skakelkode | +1 721[5] |
Sint Maarten (Nederlands: [sɪnt ˈmaːrtə(n)]), nieamptelik Sint-Maarten, behels die suidelike deel van die eiland Sint Maartin in Noord-Amerika, terwyl die noordelike deel die Franse oorsese gebied Saint-Martin vorm. Tot in 2010 het Sint Maarten deel uitgemaak van die Nederlandse Antille, maar dié eiland het op 10 Oktober 2010 'n outonome land binne die Koninkryk van die Nederlande geword.[6]
Die amptelike tale is Nederlands en Engels. Die hoofstad is Philipsburg en die grootste stad is Lower Prince's Quarter. Die eilandgebied beslaan 'n oppervlakte van 34 km² en het 'n bevolking van 42 938 in 2023 gehad. Sint Maarten grens in die noorde aan Saint-Martin, in die ooste aan Sint Bartolomeus asook in die suide aan Saba en Sint Eustatius van Karibiese Nederland.
Sint Maartin is op 11 November 1493 (Sint-Maartenfees) deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek en ná die heilige Martinus van Tours genoem. Alhoewel Sint Maartin deur die Spaanse Ryk opgeëis is, is dié eiland nooit deur Spanjaarde gekoloniseer nie. Sint Maartin het egter beide Franse en Nederlandse koloniste gelok, maar weens verskeie redes. Frankryk wou al die eilande tussen Bermuda en Trinidad en Tobago koloniseer, terwyl Nederland dié eiland as 'n gerieflike hawe halfpad tussen hul kolonies Nieu-Nederland en Nederlands-Brasilië beskou het. Die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie het in 1631 Fort Amsterdam opgerig. Franse en Engelse koloniste het gou gevolg. Na aanleiding van hierdie suksesvolle kolonisasies het Sint Maartin ook aandag van Spanje gekry, wat hul southandel veilig wou hou. Die Tagtigjarige Oorlog het tot verdere skermutselinge tussen Nederland en Spanje gelei. Spanje het dié eiland in 1633 verower en die meeste of al die koloniste van Sint Maartin ontruim. Nadat dié eiland nie meer winsgewend was nie, het die Spanjaarde Sint Maartin in 1648 verlaat. Franse en Nederlanders het hul kans gesien om hulle weer op dié eiland te vestig. Nederlandse koloniste het vanaf Sint Eustatius gekom en Franse koloniste van St. Kitts en Nevis. Die nuwe vestiging het tot konflikte gelei en albei kante het saamgestem om dié eiland te deel. Hulle het in 1648 die Verdrag van Concordia onderteken, maar skermutselinge het die grens tussen 1648 en 1816 16 keer laat wissel. Sint Maarten het in 1983 'n eilandgebied van die Nederlandse Antille geword en is sedert 2010 'n outonome land binne die Koninkryk van die Nederlande, grondwetlik gelykwaardig aan Aruba, Curaçao en Nederland.[7]
Sint Maarten is 'n gesogte vakansieplek en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.[3] Die Prinses Juliana Internasionale Lughawe is veral bekend vir sy aanloopbaan digby die strand en dit is veral gewild by toeriste wat groot vliegtuie van naby wil sien.[8]