Son

Son ☉
Die son, met donker sonvlekke.
Die son, met donker sonvlekke.
Spektraaltipe G2V
Waarnemingsdata (Epog J2000)
Regte klimming 286,13°
(vanaf die Noordpool)
Deklinasie +63,87°
(vanaf die Noordpool)
63° 52' N
Skynmagnitude (m) −26,74[1]
Absolute magnitude (M) 4,83[1]
Besonderhede
Massa (M) 1 sonmassa
1,9885×1030 kg[1]
333 000 × Aarde[1]
Radius (R) 6,96342×105 km[2]
109 × Aarde[3]
Ligsterkte (L) 3,828×1026 W
Ouderdom (jaar) ≈4,6 miljard jaar (4,6×109 jaar)
Temperatuur (K) Sentrum: ~1,57×107[1]
Fotosfeer (effektief): 5 778[1]
Korona: ~5×106
Afstand (ligjaar) 1 AE, ≈1,496×108 km
8 min. 19 sek. teen ligsnelheid
Eienskappe
Planete 8
Ander name
Son, Sól, Helios
Portaal  Portaalicoon   Sterrekunde

Die Son is die ster in die middel van die Sonnestelsel. Dit is 'n swaar, warm bol plasma, wat opgeblaas en verhit word deur energie wat deur kernfusiereaksies in sy kern opgewek word. 'n Deel van dié interne energie word van die fotosfeer af uitgestraal as lig, ultraviolet- en infrarooibestraling, en dit verskaf die meeste energie vir lewe op Aarde.

Die Son beweeg om die galaktiese sentrum van die Melkweg, op 'n afstand van 26 660 ligjare. Die Son se afstand van die Aarde af is gemiddeld 1 AE (1,496×108 km) of sowat 8 ligminute. Sy deursnee is sowat 1 391 400 km, 109 keer soveel as die Aarde s'n of vier keer die afstand tussen die Aarde en die Maan. Sy massa is sowat 330 000 keer dié van die Aarde, wat sowat 99,86% van die totale massa van die Sonnestelsel is.[4]

Rofweg 'n driekwart van die Son se massa bestaan uit waterstof (~73%); die res is hoofsaaklik helium (~25%), met klein persentasies swaarder elemente, insluitende suurstof, koolstof, neon en yster.[5]

Die Son is 'n hoofreeksster van klas G (G2V), wat informeel 'n "geeldwerg" genoem word, hoewel sy lig eintlik wit is. Dit is sowat 4,6 miljard (miljard = 109) jaar gelede gevorm,[6][7] vanweë die swaartekraginstorting van materie in 'n groot molekulêre wolk. Die meeste van die materie het in die middel versamel, terwyl die res in 'n plat skyf gedruk is, en daaruit het die res van die Sonnestelsel gevorm. Die massa in sy middel het so dig geword dat kernfusie eindelik in die kern ontstaan het. Alle sterre vorm vermoedelik deur middel van dié proses.

Die Son skakel elke sekonde sowat 600 miljoen ton waterstof in helium om deur kernfusie, en verander in die proses 4 miljoen ton materie in energie. Dié energie, wat tussen 10 000 en 170 000 jaar kan neem om uit die kern te ontsnap, is die bron van die Son se lig en hitte. Ver in die toekoms, wanneer die kernfusie van waterstof in die Son se kern sal afneem tot op 'n punt waar die Son nie meer in hidrostatiese ewewig is nie, sal sy kern aansienlik digter en warmer word; dit sal sy buitenste lae laat uitsit en die Son eindelik in 'n rooireus verander. Dié proses sal die Son sowat 5 miljard jaar van nou af so groot maak dat die Aarde onbewoonbaar sal wees. Hierna sal die Son se kern sy buitenste lae wegstoot en 'n digte soort afkoelende sterkern word bekend as 'n witdwerg. Dit sal nie meer kernfusie ondergaan nie, maar sal steeds gloei en hitte afgee vanweë sy voormalige fusieprosesse.

Die enorme uitwerking van die Son op die Aarde is sedert prehistoriese tye besef en baie kulture het dit as 'n godheid beskou. Die sinodiese rotasie van die Aarde en sy wentelbaan om die Son is die basis van sommige sonkalenders. Die kalender wat vandag die meeste gebruik word, is die Gregoriaanse kalender, wat gebaseer is op die 16de-eeuse vertolking van die Son se waargenome beweging as werklike beweging.[8]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 1,5 Williams, D. R. (2004). "Sun Fact Sheet" (in Engels). NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Mei 2020. Besoek op 27 September 2010.
  2. Emilio, Marcelo; Kuhn, Jeff R.; Bush, Rock I.; Scholl, Isabelle F. (5 Maart 2012), "Measuring the Solar Radius from Space during the 2003 and 2006 Mercury Transits", arXiv, http://arxiv.org/abs/1203.4898, besoek op 28 Maart 2012 
  3. "Solar System Exploration: Planets: Sun: Facts & Figures". NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2015.
  4. Woolfson, M. (2000). "The origin and evolution of the solar system" (PDF). Astronomy & Geophysics. 41 (1): 12. Bibcode:2000A&G....41a..12W. doi:10.1046/j.1468-4004.2000.00012.x. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 11 Julie 2020. Besoek op 12 April 2020.
  5. Basu, S.; Antia, H.M. (2008). "Helioseismology and Solar Abundances". Physics Reports. 457 (5–6): 217–283. arXiv:0711.4590. Bibcode:2008PhR...457..217B. doi:10.1016/j.physrep.2007.12.002. S2CID 119302796.
  6. Bonanno, A.; Schlattl, H.; Paternò, L. (2002). "The age of the Sun and the relativistic corrections in the EOS". Astronomy and Astrophysics. 390 (3): 1115–1118. arXiv:astro-ph/0204331. Bibcode:2002A&A...390.1115B. doi:10.1051/0004-6361:20020749. S2CID 119436299.
  7. Connelly, James N.; Bizzarro, Martin; Krot, Alexander N.; Nordlund, Åke; Wielandt, Daniel; Ivanova, Marina A. (2 November 2012). "The Absolute Chronology and Thermal Processing of Solids in the Solar Protoplanetary Disk". Science. 338 (6107): 651–655. Bibcode:2012Sci...338..651C. doi:10.1126/science.1226919. PMID 23118187. S2CID 21965292.
  8. Lattis, James M. (1994). Between Copernicus and Galileo: Christoph Clavius and the Collapse of Ptolemaic Cosmology. Chicago: The University of Chicago. pp. 3–4. ISBN 0-226-46929-8.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne