Vissery

Vissermanne trek 'n net op 'n kano in Indië.
Wilde salm migreer stroomop om te broei in Becharof Wildernis in Alaska.

'n Vissery is 'n entiteit wat betrokke is by die vang of oes van vis, gewoonlik op 'n kommersiële skaal, en wat deur 'n owerheid as 'n vissery beskou word.[1] Volgens die FAO in die VSA, word 'n vissery gedefinieer in terme van die "mense wat daarby betrokke is, spesies of tipe vis, die gebied van water of seebodem, metode van visvang, klas van bote gebruik, doel van die aktiwiteite of 'n kombinasie van hierdie funksies".

Die definisie sluit dikwels 'n kombinasie van vis en vissers in 'n streek in, laasgenoemde vang vir soortgelyke spesies met soortgelyke toerusting.[2]

'n Vissery kan behels die vang van wilde vis of die vermeerdering van vis deur visboerdery of akwakultuur.[3][4] Die lewens van meer as 500 miljoen mense in ontwikkelende lande is direk of indirek afhanklik van visserye en akwakultuur. Oorbenutting van visbronne, insluitend die vang van meer vis as die volhoubare kwota, verminder visbronne en lei tot werkloosheid en hongersnood in baie dele van die wêreld.[5]

Vis is 'n bron van proteïene, lipiede, minerale en vitamiene en word algemeen beskou en aanvaar as ʼn gesonde en smaaklike voedsel. Vis word volgens verskillende metodes bewerk en is byvoorbeeld vars, gerook of ingemaak in die handel verkrygbaar. Visvang het deur die eeue ʼn belangrike bydrae gelewer tot wêreldvoedselvoorsiening.

Daar is reeds gedurende die Steentyd van skepe en nette gebruik gemaak, terwyl die eerste preserverings- of bewaringstegnieke ook uit daardie tydperk dateer. Tydens die Middeleeue het die Wes-Europese vissers die hele noordelike Atlantiese Oseaan benut. Danksy tegnieke wat gedurende die 19de en 20ste eeu ontwikkel is, kon sowel die vangste as die beskikbare gebied aansienlik vergroot word. Die Suid-Afrikaanse visserybedryf het sy beslag gekry tydens die vroeë dae van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) se bestuur aan die Kaap.

Vis is saamgestel uit water (minimum 55 %), proteïene (16 tot 18 %), lipiede (vet), minerale en vitamiene. 'n Maer visspesie (byvoorbeeld skelvis of kabeljou) bevat baie water en baie min vet (ongeveer 1 %). 'n Vet visspesie (byvoorbeeld haring of makriel) kan daarenteen tot 25 % vet bevat. Vis word veral om die volgende redes as 'n gesonde voedsel beskou:

- Visvleis is relatief maklik verteerbaar en het 'n hoë voedingswaarde, aangesien dit alle noodsaaklike aminosure in voldoende hoeveelhede bevat.

- Vislipiede het oor die algemeen onversadigde vetsure, wat dikwels as gesonder as versadigde vetsure beskou word.

  1. Fletcher, WJ, Chessonio, J, et al (2002) The "How To" guide for wild capture fisheries Geargiveer 29 Oktober 2008 op Wayback Machine. National ESD reporting framework for Australian fisheries: FRDC Project 2000/145. p. 119–120.
  2. Madden, CJ en Grossman, DH (2004) A Framework for a Coastal/Marine Ecological Classification Standard Geargiveer 29 Oktober 2008 op Wayback Machine. NatureServe, p. 86.
  3. FAO: Fisheries glossary
  4. Fisheries glossary p. 24.
  5. Michael Hogan (2010) Overfishing, Encyclopedia of Earth, National Council on Science and the Environment (NCSE), Washington DC (en)

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne