Elektrisiteitsvoorsiening

Wêreldkaart wat die persentasie van die bevolking in elke land met toegang tot 'n hoofnetwerk toon (soos op 2017), 'n maatstaf van die omvang van elektrifisering.[1]

   80%–100%

   60%–80%

   40%–60%

   20%–40%

   0–20%

   Geen data

Wêreldkaart van netspanning en frekwensies, vereenvoudig
Wêreldkaart van kragproppe en -aansluitings, vereenvoudig

Elektrisiteitsvoorsiening is die verskaffing van elektrisiteit aan gebruikers op plaaslike, streek- en nasionale vlakke. Dit bestaan uit die ontwikkeling van elektrisiteit, die transmissie van elektrisiteit (meestal bogronds) via hoëspanningsnetwerke en die verspreiding vanaf substasies via transformators met ondergrondse laespanningskabels na die verdeelkaste, waarvandaan dit na die verbruiker gaan. Die distribusiekoste is die grootste van die totale koste, deels omdat dit moeilik is om die verwagte verbruik te beraam, wat meebring dat die distribusienet dikwels tussentyds aangepas moet word.

Naas die transmissienetwerk is daar ook 'n koppelnet waardeur die uitwisseling van energie tussen die kragsentrales of kragstasies onderling geskied. Ongeveer 93% van die elektrisiteit wat in Suid-Afrika verbruik word, word regstreeks of onregstreeks deur Eskom (voorheen die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie) gelewer. In die meeste lande maak die verbruik van elektrisiteit net ’n klein deel van die totale energieverbruik uit. Tog is die invloed van elektrisiteitsvoorsiening baie groter as wat sy beskeie aandeel aandui. Dit word enersyds veroorsaak deur die groot beleggings in kragsentrales en transmissienette en andersyds deur die groot gerief vir die verbruiker. Die verbruik van elektrisiteit styg dan ook veel vinniger as die van ander energievorme, ondanks die hoër koste daarvan.

Elektrisiteitsvoorsiening het ook newe-invloede op die omgewing. Tydens die ontwikkeling van elektrisiteit word verbrandingsprodukte vrygestel, waarvan 'n groot deel in die atmosfeer beland. Verder kom daar via die koelwater groot hoeveelhede hitte vry, waardeur rivierwater of damwater, afhangende van waar die koeltorings opgerig is, ’n paar grade warmer kan word. Kernkragstasies skep probleme wat die veilige opslag van radioaktiewe afval betref. Daarbenewens word die ontsaglike hoëspanningsmaste en -netwerke deur baie mense as 'n hinderlike en ontsierende element in die landskap beskou. Indien die energieverbruik in die komende jare teen dieselfde tempo bly toeneem, sal die mens ook van ander energiebronne gebruik moet maak. Hier word gedink aan energie wat regstreeks benutbaar is (son- en windenergie ) en aan prosesse waardeur elektrisiteit direk ontwikkel kan word.

  1. "Access to electricity (% of population)". Data (in Engels). Wêreldbank. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Junie 2020. Besoek op 13 Januarie 2020.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne