Bloeddruk

Bloeddrukgrafiek

Bloeddruk is die druk wat in die liggaam se bloedvate en in die hart voorkom. Waar die bloed die hart verlaat en in die bloedsirkulasie ingepomp word, is die bloeddruk op sy hoogste. Waar die bloed uiteindelik weer in die hart terugstroom, is die bloeddruk op sy laagste. Die krag waarmee die bloed uit die hart gepomp word, bepaal die bloeddruk. Nog faktore wat die bloeddruk bepaal, is die hoeveelheid bloed wat per tydseenheid uit die hart in die bloedsomloopstelsel gepomp word, die samestelling van die bloed en die weerstand wat die bloed in die vate ondervind.

Met elke slag van die hart word ongeveer 100 cc bloed uit die linkerhartkamer in die aorta gepomp. Hierdie fase word die sistool genoem en 'n mens praat gevolglik van 'n sistoliese bloeddruk. Ná hierdie fase volg daar 'n rusperiode waarin die hartkamer weer met bloed uit die voorhartkamer gevul word. Tydens hierdie fase, wat die diastool genoem word, word geen bloed in die aorta ingepomp nie en dit veroorsaak dat die druk tot 'n bepaalde waarde daal. Hierdie waarde word die diastoliese bloeddruk genoem. Die verskil tussen die sistoliese en die diastoliese druk word die polsdruk genoem. Die normale waarde van die sistoliese en die diastoliese druk is 120 en 80 mm kwik (mm Hg).

Met ouderdom neem die elastisiteit van die bloedvatwande af as gevolg van aarverkalking. Dit lei tot 'n vernouing van die bloedvate. As gevolg hiervan neem die weerstand in die bloedvate toe en die bloeddruk styg.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne