Byewas

'n Kers wat van byewas gemaak is.

Byewas is 'n natuurlike was ('n vetterige stof) wat heuningbye vervaardig om hul heuningkoeke te bou. Die koeke bestaan uit selle waarin heuning opgegaar word. Die selle dien ook as bewaarplekke van die jongbye (larwes en papies) van die korf. Byewas word deur agt waskliere in die abdominale segmente 4 tot 7 van werkersbye gevorm.

Byewas is op 'n stadium as materiaal vir tandestopsels gebruik.

Die was word in skoonheidsmiddels en die farmaseutiese bedryf gebruik. Groot hoeveelhede byewas word vir die vervaardiging van kerse aangewend. Daarteenoor speel dit net 'n klein rol in die chemiese bedryf, byvoorbeeld om skiwas van te maak. Lekkers van gelatien gebruik soms byewas as 'n bedekking. In die geneeskunde word byewas soms in medikasie vir hoes en verkoue, asook die behandeling van spierpyn, gebruik.

Dit is 'n stewige stof met 'n betreklik hoë molekulêre gewig. Dit smelt tussen 62 en 65°C. Byewas bestaan hoofsaaklik uit esters van vetsure en verskeie lang-ketting-alkohole.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne