Epaminondas

Epaminondas
Epaminondas

Geïdealiseerde uitbeelding van Epaminondas by Stowe-huis, Engeland

Geboortedatum ca. 410 v.C.
Geboorteplek Thebe
Sterfdatum 362 v.C.
Sterfplek Mantineia
Lojaliteit Thebe
Rang Strategos, Boiotarch
Veldslae/oorloë Slag van Leuktra
Slag van Mantineia

Epaminondas (Grieks: Ἐπαμεινώνδας) (ca. 418 v.C. – 362 v.C.) of Epameinondas, was 'n Thebaanse generaal en staatsman van die 4de eeu v.C. wat 'n omwenteling in die antieke Griekse stadstaat Thebe teweeggebring het, deur dit uit te lei uit Spartaanse onderhorigheid na 'n vooraanstaande posisie in Griekse politiek. In die proses het hy Spartaanse militêre mag gebreek deur sy sege by Leuktra en die Messeense helote bevry, 'n groep Peloponnesiese Grieke wat onder Spartaanse heerskappy verkneg is vir sowat 230 jaar, na hul neerlaag in die Messeense oorlog wat in 600 v.C. ten einde geloop het. Epaminondas het die politieke kaart van Griekeland herskik, ou alliansies opgebreek, nuwes teweeggebring, en was toesighouer oor die oprigting van hele stede. Hy was ook militêr invloedryk, weens sy uitvinding en implementering van verskillende belangrike slagveldtaktieke.

Die Romeinse redenaar Cicero het hom verklaar as die "die voorste man van Griekeland", alhoewel Epaminondas in moderne tye tot relatiewe onbekendheid verval het. Die veranderinge wat Epaminondas oor die Griekse politieke orde teweegebring het, het hom nie lank oorleef nie, aangesien die kringloop van 'n verskuiwende oorhand en nuwe alliansies onverpoosd voortgeduur het. 'n Blote sewe en twintig jaar na sy dood, is 'n wederstrewige Thebe deur Alexander die Grote verpletter. Gevolglik word Epaminondas – wat in sy tyd geloof is as 'n idealis en bevryder – vandag hoofsaaklik onthou vir 'n dekade (371 tot 362 v.C.) van krygstogte wat die krag van die groot Griekse landmagte getap het en die weg gebaan het vir die Makedoniese verowering.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne