Epiteelweefsel

Verskillende vorme epiteelweefsel.

Epiteelweefsel is weefsel wat bestaan uit selle kenmerkend styf teen mekaar gerangskik met min tussenmateriaal (tussenstof) en feitlik geen tussenselruimtes nie. Epiteelweefsel kom in een of meer sellae voor. Volgens die getal selle waaruit dit bestaan, word epiteelweefsel verdeel in twee groepe, naamlik eenvoudige epiteel (een laag selle) en saamgestelde epiteel (meer as een laag selle). Die vernaamste soorte epiteelweefsels is plaveiselepiteel, kubusepiteel, kolomepiteel, wimperepiteel en klierepiteel. Die epiteelweefsel beskerm daardie dele waar dit voorkom. In byvoorbeeld die vel beskerm dit die sagter dele wat daaronder geleë is en help dit ook om skadelike kieme uit te hou. As kliere sekreteer epiteel stowwe soos spysverteringsensieme en hormone, en ekskreteer dit stowwe soos sweet, en help dit ook met die vorming van urien in die nierbuisies. Epiteel voorkom wrywing in byvoorbeeld die bloedvate. Dit help ook om vreemde voorwerpe soos stofdeeltjies, wat in die luggange beland, na buite te voer. Verder het dit 'n absorberende funksie in byvoorbeeld die maag, dunderm en die nierbuisies. In sintuigorgane soos die oog en oor, help dit om sekere prikkels op te vang. Epiteel help ook om die diffusie van gasse en vloeistowwe te vergemaklik in byvoorbeeld die longe en haarbloedvate.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne