Fraktuur

Beenbreuk
Klassifikasie en eksterne bronne
Interne en eksterne aansig van 'n arm met 'n saamgestelde fraktuur, beide voor en na die operasie.
Interne en eksterne aansig van 'n arm met 'n saamgestelde fraktuur, beide voor en na die operasie.
ICD-10 Sx2 (waar x=0–9, afhangende van die ligging van die fraktuur)
ICD-9 829
DiseasesDB 4939
MedlinePlus   000001
MeSH D050723
Mediese waarskuwing

'n Fraktuur of beenbreuk (Latyn: fractura) in die mediese vakterminologie verwys na enige verbreking van die normale samehang van 'n beenstuk.

Die geneesproses van 'n beenbreuk kon eers na die ontdekking van röntgenfoto's aan die begin van die 1900's deeglik nagevors word. Sedertdien het die behandeling van beenbreuke drasties verbeter. Benewens 'n aantal nie-operatiewe metodes kan beenbreuke vandag met behulp van 'n operasie volkome genees word.

Sedert die vroegste tye was dit een van die pligte van 'n geneesheer om beenbreuke te behandel. Geskrifte wat uit die jaar 2000 v.C. dateer, maak reeds van hierdie behandeling melding. Boeke wat in die Middeleeue geskryf is, beskryf vernuftige metodes om frakture te behandel.

Dit is egter te betwyfel of al hierdie metodes doeltreffend was. Daar kon eers van 'n werklik wetenskaplikgefundeerde terapie gepraat word toe frakture met X-straalfoto's ondersoek kon word. In 1896 het Wilhelm Konrad Röntgen (1845-1923) röntgenstrale ontdek, maar dit het nog 'n hele ruk geduur voordat sy ontdekking doeltreffend toegepas kon word. Beenbreuke kon dus eers van die begin van hierdie eeu af volkome doeltreffend behandel word. ʼn Fraktuur beteken dat die onderlinge samehang van die beenweefsel heeltemal onderbreek is. ʼn Beenbesering kan ook in die vorm van ʼn kraak of ʼn kneusing voorkom. Wanneer die gebreekte been deur die omliggende sagte weefsel gedring het, word van ʼn gekompliseerde fraktuur gepraat.

ʼn Breuk wat sonder enige ooglopende oorsaak verskyn, word ʼn patologiese breuk genoem. So 'n breuk kan deur 'n metaboliese siekte of 'n kwaadaardige gewas veroorsaak word. Sekere breuke word nie deur skielike geweld veroorsaak nie, maar wel deur 'n langdurige uitputting. 'n Voorbeeld hiervan is die sogenaamde “masjeer-fraktuur”, waar die tweede middelvoetbeentjie breek nadat die persoon baie ver geloop het. Een van die vernaamste uitwendige kenmerke van ʼn breuk is pyn, wat vererger wanneer druk in 'n lengterigting op die breuk uitgeoefen word (asdrukpyn).

Nog uitwendige kenmerke is 'n swelsel, wat dikwels met bloeding gepaard gaan. Die persoon kan die betrokke liggaamsdeel ook nie gebruik nie. As die besering nie behandel word nie, is dit moontlik dat die pyn wel sal verdwyn, maar die liggaamsgedeelte se funksie sal nie herstel word nie. Dit kan tot gevolg hê dat die pasiënt 'n invalide word. Die primêre doel van die behandeling van frakture moet dus wees om die betrokke liggaamsdeel se funksie te herstel.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne