IPSec

IPSec (vir IP sekuriteit) is 'n gestandardiseerde raamwerk vir die beveiliging van Internetprotokol (IP) kommunikasie deur middel van enkripsie en bevestiging van elke IP-pakket in 'n datastroom.

IPsec kan in twee modusse (maniere) bedryf word: Transportmodus en tonnelmodus.

In transportmodus word slegs die vrag (boodskap) van die IP-pakket versluier (enkripteer). Dit is ook ten volle roetebepalend aangesien die IP-hoof in plein teks gestuur word; dit kan egter nie oor Netwerk-adresvertaler koppelvlakke gaan nie, aangesien dit die hashwaarde sal ongeldig maak. Transportmodus word ook gebruik vir gasheer-tot-gasheer kommunikasie oor 'n LAN.

In tonnelmodus word die IP-pakket in sy geheel versluier. Dit moet dan in 'n nuwe IP-pakket ingesluit word om te kan werk. Tonnelmodus word gebruik vir netwerk-tot-netwerk kommunikasie (veilige tonnels tussen roetebeheerders) of gasheer-tot-netwerk en gasheer-tot-gasheer kommunikasie oor die Internet.

IPSec word in werking gestel deur 'n stel kriptografiese protokolle vir (1) die beveiliging van pakketvloeie en (2) Internet sleuteluitruiling (en: Internet key exchange). Vir eersgenoemde bestaan daar twee:

  • Bevestigingshoof (en: Authentication Header of AH) wat bevestiging-, vrag- (boodskap) en IP-hoof boodskapintegriteit verseker asook die verskaffing van nie-repudiëring d.m.v. 'n kriptografiese algoritme, maar bied nie vertroulikheid nie; en
  • Ingeslote Sekuriteitsvrag (en: Encapsulating Security Payload of ESP), wat die vertroulikheid van data en die vrag- (boodskap) en IP-hoof booskapintegriteit verseker en d.m.v. 'n kriptografiese algoritme ook die bevestiging.

In sommige lande word die versluiering (enkripsie) van kommunikasie deur die wet verbied en mag die ESP protokol nie gebruik word nie. In hierdie geval bied die Bevestigingshoof (AH) die volledige IPSec funksionaliteit (sonder vertroulikheid).

Oorspronklik was AH slegs gebruik vir integriteit en ESP slegs vir dataversluiering; bevestigingsfunksies is eers later by ESP gevoeg. Tans word slegs een sleuteluitruilingsprotokol gedefinieer, naamlik die IKE-protokol.

IPsec prokolle bedryf op die netwerklaag, laag 3 van die OSI-model. Ander Internetsekuriteitsprotokolle wat algemeen in gebruik is, soos onder andere SSL en TLS bedryf op die transportlaag en boontoe (OSI-lae 4 - 7). Dit maak IPsec meer buigsaam, aangesien dit gebruik kan word vir die beskerming van beide TCP en UDP-gebaseerde protokolle. Dit verhoog egter die kompleksiteit en bewerkingslas omdat dit nie op TCP (laag 4 van die OSI-model) kan staat maak om die betroubaarheid en fragmentering te bestuur nie.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne