Keynesianisme

Keynesianisme is die siening dat ekonomiese produksie in die kort termyn sterk beïnvloed word deur gesamentlike vraag (totale besteding in die ekonomie), veral tydens resessies. In die Keynesiaanse siening is gesamentlike vraag nie noodwendig gelyk aan die produksiekapasiteit van die ekonomie nie; dit word eerder deur 'n aantal faktore beïnvloed en tree soms wisselvallig op, wat produksie, indiensneming, en inflasie affekteer.[1]

Die teorieë wat die basis van Keynesianisme vorm is die eerste deur die Britse ekonoom John Maynard Keynes in sy boek The General Theory of Employment, Interest and Money, wat in 1936 tydens die Groot Depressie uitgegee is, voorgelê. Keynes se benadering het 'n ander perspektief gelewer as die konvensionele fokus op gesamenlike aanbod van die klassieke ekonomiese siening. Die interpretasies van Keynes wat gevolg het, is betwisbaar en verskeie ekonomiese denkrigtings maak aanspraak op sy nalatenskap.

Keynesiaanse ekonome voer gereeld aan dat besluitneming in die private sektor soms tot ondoeltrefende makroekonomiese uitkomste lei wat dan aktiewe beleidsresponse deur die publieke sektor noodsaak, soos monetêre beleid deur die reserwebank en fiskale beleid deur die regering, om produksie oor die besigheidsiklus te stabiliseer.[2] Keynesianisme staan 'n gemengde ekonomie voor, d.i. 'n ekonomie wat deur die private sektor oorheers word, maar met 'n rol vir regeringsingryping tydens resessies.

Keynesianisme het as die standaard ekonomiese model in ontwikkelde lande tydens die laaste deel van die Groot Depressie, die Tweede Wêreldoorlog, en die ekonomiese uitbreiding na die Tweede Wêreldoorlog (1945-1973) gedien, alhoewel die invloed daarvan gekwyn het na die oliekrisis van 1973 en die daaropvolgende stagflasie in die 1970s.[3] Met die koms van die globale finansiële krisis van 2008 is 'n herlewing in Keynesiaanse denke ervaar.[4]

  1. "Keynesian Economics". Concise Encyclopedia of Economics (2nd). (2008). Ed. David R. Henderson (ed.). Indianapolis: Library of Economics and Liberty. ISBN 978-0865976658. OCLC 237794267. 
  2. Sullivan, Arthur; Steven M. Sheffrin (2003). Economics: Principles in action. Upper Saddle River: Pearson Prentice Hall. ISBN 0-13-063085-3.
  3. Fletcher, Gordon (1989). The Keynesian Revolution and Its Critics: Issues of Theory and Policy for the Monetary Production Economy. Palgrave MacMillan. pp. xix–xxi, 88, 189–191, 234–238, 256–261. ISBN 0-312-45260-8.
  4. "Economic Crisis Mounts in Germany". Der Spiegel (in Engels). 4 November 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Januarie 2012. Besoek op 13 Augustus 2011.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne