LitNet

LitNet is 'n Afrikaanstalige letterkundige webwerf. Die webwerf se slagspreuk lui: "Die boekehuis met baie wonings". Dit huisves verskeie tuistes waarin uiteenlopende sake rondom skrywers, boeke en lesers ter sprake kom. Dit word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en 24.com bedryf met Etienne van Heerden as stigter-redakteur. Die LitNet-bestuurskomitee bestaan uit Etienne van Heerden, Hofmeyr-professor in die Skool vir Tale en Letterkundes aan die Universiteit van Kaapstad en Russel Hanley, kommersiële hoofbestuurder van 24.com. LitNet het op 11 Januarie 1999 aanlyn gegaan en het in September 2006 na 'n nuwe platform gemigreer. In 2007 is 'n aanlyn akademiese tydskrif, LitNet Akademies, van stapel gestuur wat op dieselfde platform gehuisves word en wat portuurbeoordeelde navorsingsartikels in die onderafdelings geesteswetenskappe, godsdienswetenskappe, natuurwetenskappe, opvoedkunde, en regte publiseer.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne