Lughawe

Zürich Lughawe. Die landingsbane, die terminaalgeboue en die pad en trein aansluitings is hier sigbaar.
Vertreksaal by Londen Luton in Groot-Brittanje
Bagasie-opeisgebied te Lughawe Londen-Heathrow in Groot-Brittanje

'n Lughawe is 'n groot, gelyk terrein met aanloopbane (vliegveld) waarop vliegtuie kan land (landingsbaan) en opstyg (stygbaan), 'n lugbeheertoring en radar; verder terminaalgeboue met kantore vir die administrasie van die lugdienste en geriewe vir passasiers. Gewoonlik bestaan die terminaalgeboue uit 'n aankomssaal met bagasie-area (bagasie-opeisgebied), 'n vertreksaal met inweeg-toonbanke, sekuriteitsbeheer, paspoort- en doeanebeheer vir buitelandse vlugte, vluginligtingsborde, winkels en sale waar die reisigers vir hulle vlug kan wag.

Verder beskik groot lughawens deesdae oor moderne infrastruktuur soos spoorwegstasies, bus- en taxistaanplekke, parkeergarages, motorhuur, boekstalletjies, poskantore, winkelsentrums, hotelle, restaurante, kafees, polisie- en brandweerstasies, hospitale ens. 'n Groot aantal bedrywe en hulle grondpersoneel sorg vir 'n vloeiende verloop van sake op die lughawe: spyseniers, brandstofversorging, skoonmakers, bagasievervoer, vliegtuigloodse ens.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne