Matras

'n Dubbelkantige binneveermatras met 'n kussingbolaag op 'n kisveerbasis en met 'n geweefde damas-bedekking. (Vervaardiger deur Shifman Matras)

'n Matras is 'n groot kussing wat aan 'n lêende liggaam ondersteuning bied, wat as 'n bed of as 'n gedeelte van 'n bed gebruik word. Matrasse kan bestaan uit 'n deurgestikte of vasgebinde oortreksel, gewoonlik van 'n swaar materiaal, wat hare, strooi, katoen, skuimrubber, ens. bevat, of 'n raamwerk van staalvere.[1] Matrasse kan ook met lug[1] of water gevul word.

Die woord matras is afgelei van die Arabiese matrah, wat "iets neergegooi" of "plek waar iets neergegooi is" beteken en dus "mat of kussing". Tydens die Kruistogte het Europeërs die Arabiese metode van slaap op kussings op die vloer aangeleer, en die woord materas het uiteindelik inslag gevind in Middelengels deur die Romaanse tale.[2]

Matrasse word gewoonlik bo-op 'n bedbasis neergesit, wat solied kan wees, soos in die geval van 'n platformbed, of elasties, bv. met 'n gestoffeerde kisveer van hout en draad of 'n hortjiebasis. 'n Divan, wat gewild is in Europa,[3] behels sowel die matras as die basis in 'n enkele  gestoffeerde eenheid met pote. Divans het ten minste een binneveerlaag, asook kussingmateriaal. Hulle kan ook 'n sekondêre matras en/of 'n verwyderbare bolaag hê.

Matrasse het aanvanklik 'n verskeidenheid van natuurlike materiale bevat soos strooi, vere of perdehare. In die eerste helfte van die 20ste eeu het 'n tipiese matras wat in Noord-Amerika verkoop is, 'n binneveerkern en katoenrolle of veselvulsel bevat. Moderne matrasse bevat gewoonlik óf 'n binneveerkern of materiaal soos lateks, viskose-rek of ander soorte buigsame poliuretaanspons. Ander vulbestanddele is onder meer isolasiekussings oor die vere wat keer dat die bed se bekleedsel nie in die binnevere indruk nie, asook poliësterveselvulsels in die boonste stofferinglae. In 1899 het James Marshall die eerste bed met individueel toegedraaide veerspirale bekend gestel, wat nou algemeen bekend staan as Marshall-spirale. Matrasse kan ook met lug of water gevul wees, of 'n verskeidenheid van natuurlike vesels, soos in futons. Kapokwol is 'n algemene matrasmateriaal in Suidoos-Asië, asook klapperhaar in Suid-Asië.

In Noord-Amerika is die tipiese soort matras wat deesdae verkoop word 'n binneveermatras; daar is egter toenemende belangstelling in volsponsbeddens en die sogenaamde hibriedbeddens, wat sowel binnevere as hoëgehaltespons soos viskoserek of lateks in die geriefslae het. In Europa is poliuretaansponskerns en lateks al lank gewild en maak 'n veel groter verhouding van die matrasse wat verkoop word uit.[4]

  1. 1,0 1,1 "Mattress".
  2. ""Mattress: Word History."". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Maart 2007. Besoek op 22 September 2016.
  3. "Divan".
  4. Nelles, Barbara.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne