Middeleeue

Die uitbreiding van die Frankiese Ryk onder Karel die Grote.
Die St. Michael in Hildesheim is in die Middeleeue gebou.

Die Middeleeue word rofweg beskou as die tydperk in die Europese geskiedenis tussen 400 en 1500 ná Christus. Die Middeleeue begin in die vyfde eeu n.C met die ineenstorting van die Wes-Romeinse Ryk en die bewindoorname van Wes-Europa deur die Germaanse volke.

Bevolkingsafname, teenverstedeliking, invalle en die beweging van mense, wat gedurende die Antieke-tyd begin het, het tot in die vroeë Middeleeue voortgeduur.

Barbare, waaronder verskeie Germaanse volke, het nuwe koninkryke gestig in wat ná invalle van die Wes-Romeinse Ryk oor was.

Ná die Middeleeue, in die Renaissance-tydperk, het monargieë tot stand gekom en word van die klassieke kulture herontdek (die Middeleeue word as ’n tussenfase ná die val van die Wes-Romeinse ryk teen die einde van die 5de eeu, beskou).

In die tyd van 476 tot 800 word die westelike deel van Europa deur die koninkryke wat deur die Germaanse stamme gestig is, oorheers. Die Franke het ’n belangrike rol gespeel omdat hulle die katolieke weergawe van die Christendom aangeneem het en stadig ’n groot deel van Europa verower het. Die Gote was Ariane.

Ook ander Germane, soos die Bourgondiërs, die Wes-Gote, die Oos-Gote, die Langobarde en die Sakse het koninkryke gestig. Engeland is deur die Angele, Sakse en Jutte ingeval.

In 800 word die Frankiese koning, Karel die Grote, keiser en neem die Karolingiese Renaissance aanvang. Die keisers het vinnig teen hulle vasale (onderdane) verloor en so het die feodale tydperk begin. In 1066, ná die Slag van Hastings, het die Normandiese verowering van Engeland begin.

In die feodale tydperk was die koninkryke verdeel in baie graafskappe en hertogdomme. In 1095 het die Bisantynse keiser Alexius Comnenus, vir pous Urbanus II gevra om die Turke uit Jerusalem te help verdryf. Urbanus het ingestem en die volgende twee eeue word deur die Kruistogte gekenmerk.

In die 14de eeu is Europa deur pes-epidemies getref, soos byvoorbeeld die Swart Dood.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne