Odusseus

Odusseus (Grieks: Ὀδυσσεύς) was in die Griekse mitologie die legendariese koning van Ithaca en die hoofkarakter in Homeros se epiese gedig die Odussee. Hy was ook ’n belangrike karakter in Homeros se Ilias en die werke van die Epiese Siklus.

Val van Troje

Odusseus is veral bekend vir sy tien jaar lange reis huiswaarts ná die val van Troje, nadat hy tien jaar lank in die Trojaanse Oorlog geveg het. In sy afwesigheid is aangeneem dat hy dood is, en sy vrou, Penelope, moes in dié tyd hard probeer om ’n klomp vryers aan ’n lyntjie te hou wat graag met sy "weduwee" wou trou.

Die verbeelding van lesers en toehoorders is deur die eeue aangegryp deur die verhaal van die beroemde legendariese figuur. Eienaardige en wonderlike verhale uit die oorleweringe van hul volk is ingewerk in verhale soos die van Odusseus. Die digters van antieke Griekeland het baie helde besing. Baie van hulle het stellig nooit geleef nie, maar sommige was waarskynlik histories. In hul vertellings oor die dade van hierdie helde het die ou Griekse digters dikwels eienaardige en wonderlike verhale uit die oorlewerings van hul volk ingewerk. Die verhale van Odusseus is ʼn voorbeeld hiervan. Odusseus was 'n man van moed, krag en gesonde verstand. Twee besondere gawes het hom van ander manne onderskei: ʼn onversadigbare nuuskierigheid en buitengewone vindingrykheid, wat hy baie keer gebruik het om homself en sy makkers uit moeilike situasies te kry; maar soms het hy hierdie vermoëns van hom gebruik om vriend sowel as vyand skade aan te doen.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne