Room

'n Melkbottel wat 'n lagie room bo-in vertoon

Room is 'n suiwelproduk wat saamgestel is uit die hoë-bottervetlaag bo-op melk voor homogenisering. In nie-gehomogeniseerde melk styg die vet, wat minder dig is, uiteindelik tot bo. By die industriële produksie van room word hierdie proses versnel deur die gebruik van sentrifugeerders in sogenaamde "afromers".

In baie lande word room in verskillende grade verkoop, afhangende van die totale bottervetinhoud. Room kan ook gedroog word tot 'n poeier vir verskeping na afgeleë markte.

Room wat van melk afgeskei is mag "soet room" genoem word om dit te onderskei van weiroom afgeskep van wei, 'n byproduk in die maak van kaas. Weiroom het 'n laer vetinhoud en 'n sout- of kaassmaak. [1] Dit word ook gebruik in 'n groot verskeidenheid van voedselprodukte.

Room vervaardig van melk van beeste (veral Jersey beeste) wat op natuurlike weiding loop, bevat dikwels 'n natuurlike karotenoïed. Dit is 'n pigment wat voorkom in die plante wat hulle eet en gee die room 'n effense geel skynsel, vandaar die benaming geel- en witroom. Room gemaak van bokmelk, of van koeie wat op stal gevoer word met graan of graangebaseerde pille, is wit.

  1. (en) Artikel oor soetroom, weiroom en die botters wat hulle produseer

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne