Selfdegeslaghuwelik

Twee vroue se huwelik word geseën deur 'n predikant by Club Mykonos, Langebaan, op 28 April 2007. Die verbintenis tussen hulle is vroeër reeds gewettig.

   Huwelik as instelling staan oop vir pare van dieselfde geslag

   Selfdegeslaghuwelike word in bepaalde omstandighede erken of voltrek

   Hooggeregshof of konstitusionele hof het uitsprake ten gunste van selfdegeslaghuwelike gelewer, al is hulle nog nie amptelik as instelling ingevoer nie

   Burgerlike verbintenisse

   Ongeregistreerde saamlewing

   Selfdegeslaghuwelike word nie amptelik erken nie

   Geen grondwetlike verbod op selfdegeslaghuwelike of verbintenisse nie

   Grondwetlike verbod op selfdegeslaghuwelike

   Grondwet stel Islamitiese wetgewing in of verbied skendings van Moslem-moraliteit (strepe: net vir Moslems)

'n Selfdegeslaghuwelik (in Afrikaans dikwels ook eenslagtige huwelik, homoseksuele huwelik of gay-huwelik genoem) is 'n huwelik tussen twee persone van dieselfde biologiese geslag of geslagsidentiteit.

Suid-Afrika was die vyfde van tans 36 lande – asook die eerste Afrikaland en die tweede land buite Europa – wat huweliksregte aan pare van dieselfde geslag verleen het. Die reg op selfdegeslaghuwelike is daarnaas ook op subnasionale vlak – waaronder dele van Meksiko – amptelik erken.

In Suid-Afrika is die definisie van 'n huwelik volgens die Huwelikswet (Wet No. 25 van 1961) deur die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 uitgebrei na burgerlike verbintenisse wat deur twee mense van dieselfde geslag aangegaan word. In die praktyk geniet selfdegeslaghuwelike in Suid-Afrika tans dieselfde regtelike erkenning soos heteroseksuele huwelike, al word in hulle registrasiedokument of huweliksertifikaat spesifiek na die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 verwys en kan hulle nie 'n huwelik volgens die Huwelikswet van 1961 aangaan nie. Pare wat volgens die nuwe wet wil trou of 'n vennootskap wil registreer, kan self kies of na hul verhouding in die registrasiedokument as huwelik of burgerlike verbintenis verwys word. Burgerlike verbintenisse staan ook op vir heteroseksuele pare.

Gelyke huweliksregte is, afhangende van die nasionale wetgewing en regspraak, deels deur die wysiging van bestaande huwelikswetgewing, deels as gevolg van hofsake oor gelyke regte, en deels in referenda deur 'n meerderheid van die uitgebragte stemme aan persone van dieselfde geslag verleen. Hierdie regte word in baie lande as 'n politieke, maatskaplike, burgerregtelike en godsdienstige kwessie beskou. Daar word steeds debatte gevoer oor die status wat verbintenisse tussen twee persone van dieselfde geslag moet geniet.

In jurisdiksies, waar enerse-geslaghuwelike amptelik erken word, kan pare hul huweliksplegtigheid in 'n wêreldlike of 'n godsdienstige omgewing hou. 'n Verskeidenheid denominasies dwarsoor die wêreld laat persone van dieselfde geslag toe om hul huwelik in 'n kerkdiens te bevestig, waaronder Quakers, die Episkopaliese Kerk in die Verenigde State, die Metropolitan Community-kerk, die United Church of Christ, hervormingsgesinde en behoudende Joodse gemeentes, Wicca, Druïde, Unitêre Universaliste en inheemse godsdienste van die Eerste Nasies in Amerika.

Volgens ondersoeke, wat in verskillende lande gedoen is, is goed opgeleide mense eerder geneig om die erkenning van enerse-geslaghuwelike te ondersteun as minder goed opgeleides, en steun onder jongmense is hoër as onder die ouer generasie.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne