Slang

Slange
Tydperk: 94–0 m. jaar gelede
'n Jong gewone luislang
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Subfilum:
Klas:
Orde:
Suborde:
Serpentes

Linnaeus, 1758
Infraordes
Wêreldwye verspreiding van slange
(verspreiding van seeslange in blou)

Slange (Serpentes) is 'n groep karnivoriese reptiele wat aan die orde van die skubreptiele (Squamata) behoort en aan akkedisse verwant is. Daar is ongeveer 3 150 verskillende slangspesies wat byna dwarsoor die wêreld voorkom en waarvan ongeveer 15% giftig is.

Slange is saam met akkedisse die grootste groep lewende reptiele, en omdat hulle so na verwant is aan akkedisse, word slange en akkedisse as 2 subordes van 'n enkele orde geklassifiseer. 'n Besondere kenmerk is dat hulle geen duidelik sigbare pote het nie, en daarom 'n unieke manier van beweging ontwikkel het. Die meeste slange het breë skubbe aan die onderkant wat help met voortbeweging en wat hulle van pootlose akkedisse onderskei.

Die meeste slange kom in die tropiese en subtropiese wêrelddele voor en ongeveer een derde van alle slange is giftig. Slange (suborde Serpentes of Ophidia) vorm saam met die akkedisse (suborde Lacertilia) die orde Squamata. Hulle akkedisagtige voorouers, die Lepidosauria, het reeds in die Perm (ongeveer 270 miljoen jaar gelede) ontstaan en was saam met die dinosouriërs en ander groot reptiele 'n dominante groep gedurende die Mesosoïkum.

Die eerste slange het laat in die Kryt (ongeveer 100 miljoen jaar gelede) ontstaan. Daar is tans ongeveer 3 000 spesies bekend, waarvan ongeveer een derde giftig is. Slange het 'n byna wêreldwye verspreiding en word in uiteenlopende habitattipes, soos in bome, onder die grond, in water, in woestyne en in woude, aangetref. Verreweg die meeste spesies kom egter in tropiese en subtropiese wêrelddele voor en in lande soos Engeland en Nederland is daar slegs 3 spesies.

Hierdie verspreidingspatroon hang nou saam met die poikilotermie (koudbloedigheid) van slange. Slange kan nie hul eie liggaamstemperatuur reguleer nie en neem basies die temperatuur van hul omgewing aan. Koudbloedigheid is eintlik nie 'n korrekte benaming vir hierdie toestand nie, want as die omgewingstemperatuur hoog is, is hul liggaamstemperatuur ook hoog.

As die omgewings- en gevolglik die liggaamstemperatuur van slange (en ander poikilotermiese diere) te laag daal, raak hulle onaktief en kan hulle gevolglik ook nie meer voedsel vang nie. Enkele slange kan nog by baie lae temperature funksioneer en die Europese adder (Vipera berus) kom byvoorbeeld tot binne die poolsirkel voor.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne