Supranasionalisme

Supranasionalisme is 'n politieke begrip wat behels dat soewereine state 'n deel van hulle soewereiniteit afstaan aan 'n hoër outoriteit om saam te werk. Die teenoorgestelde beginsel van samewerking tussen state word intergoewermentalisme genoem. Hierby staan state geen soewereiniteit af nie.

Die begrip is reeds in 1949 deur Robert Schuman ingevoer toe hy gepraat het van supranasionale samewerking en supranasionale assosiasies. Hy het egter die oordrag van soewereine regte nie as 'n doel as sodanig gesien nie, maar -in bepaalde gevalle- as 'n noodsaaklikheid.[1] Hierdie gedagte het gelei tot die Schumanverklaring van 1950 en stigting van die Europese Gemeenskap vir Kole en Staal in 1951 wat die toesig op die vervaardiging van hierdie belangrike materiale, wat mos vir oorlogvoering noodsaaklik was, sowel in Frankryk as in Duitsland in hande van 'n supranasionale hoë outoriteit gelê het. Dit het die groot wantroue tussen die twee ou vyande oorwin en die grondslag gelê vir die ekonomiese herstel van Duitsland en Wes-Europa.[2] Jean Monnet het deur hierdie sukses in 1955 selfs gestel: "gewone samewerking tussen [Europese] regerings sal spoedig onvoldoende word. Dit is absoluut noodsaaklik dat die indiwiduele lande van hulle outoriteit aan die Europese federale instellings oordra".

Latere teoretici soos Christian Joerges het twee tipes supranasionalisme onderskei.[1] Die ortodokse tipe, soos Monnet dit bedoel het, het dit meer van bo-af wil oplê, terwyl die oorleg-tipe meer op kommunikasie tussen die verskillende vlakke (supranasionaal, nasionaal, regionaal, munisipaal ens.) gerig is.

  1. 1,0 1,1 Supranationalism between the nation-state and international cooperation Janusz Ruszkowski Journal of public administration and policy research 1(1) 4-10, 2009
  2. The role of Robert Schuman en die Schuman-verklaring Christopher Kirkland

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne