Verassing

Kremasie in Ubud, Bali

Verassing (dikwels ook lykverbranding of kremasie, van Latyns cremare "verbrand") is naas 'n begrafnis (of teraardebestelling) een van die oudste maniere in die geskiedenis van die mensdom om met die dooie menslike liggaam om te gaan. Menslike lyke word deur middel van verbranding in 'n krematorium tot 'n klein stoflike oorskot verminder wat in teenstelling met die algemene oortuiging nie uit as bestaan nie, maar eerder uit gedroogde beenfragmente wat ná die verassing in 'n sogenaamde cremulator fyngemaal is. In sommige beskawings soos Indië word lyke ook op tradisionele brandstapels veras.

Die verassing van 'n lyk kan deel wees van 'n begrafnisritueel en is sodoende 'n alternatief vir die teraardebestelling van 'n dooie menslike liggaam in 'n doodskis. Die as word gewoonlik in 'n houer geplaas en in 'n begraafplaas begrawe. Dikwels is daar nisse in gedenkmure vir hierdie soort begrafnis beskikbaar. In ander gevalle word die as van oorledenes op verskillende maniere verstrooi.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne