Vulva

Anatomie van die vroulike geslagsorgane:
1. Eierleier, 2. Fimbriae, 3. Blaas, 4. Skaambeen, 5. Para-uretrale kliere, 6. Urineleier, 7. Klitoris, 8. Vestibulêre bol, 9. Labia minora, 10. Labia majora, 11. Eierstok, 12. Dikderm, 13. Baarmoeder, 14. Forniks, 15. Serviks, 16. Rektum, 17. Vagina 18. Anus 19. Klier van Bartholin

Die vulva (meervoud: vulvas;[1] afgelei van die Latyn vir "omhulsel" of "bedekking") bestaan uit die eksterne vroulike geslagsorgane. Dit sluit die volgende in: die skaamheuwel, labia majora, labia minora, klitoris, vestibulêre bolle, vulvavoorhof, urinebuisopening, vaginale opening, maagdevlies en die vestibulêre kliere van Bartholin en Skene. Ander eienskappe is onder meer die sebumkliere, pubiese hare en ’n deel van die perineum. Die vulva sluit die opening van die vagina in wat na die baarmoeder lei. Die groot en klein labia bied ’n dubbele laag beskerming hiervoor. Bekkenvloerspiere ondersteun die strukture van die vulva.

Die voorkoms van die vulva wissel baie van vrou tot vrou, veral wat die labia minora betref. Die vulva kan deur baie aandoenings geraak word wat dikwels tot irritasie lei. Vulvovaginale gesondheid kan baie hiervan voorkom. Ander aandoenings sluit verskeie infeksies en kankers in.

  1. "Vulva" in die HAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig).

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne