Aardkern

Die lae van die Aarde en sy atmosfeer.

Die aardkern is die binnenste deel van die Aarde; dit strek van die onderkant van die aardmantel op ’n diepte van sowat 2 900 km tot by die middelpunt van die Aarde op ’n diepte van ongeveer 6 370 km. Die aardkern omvat 16% van die volume van die Aarde en 32% van die massa.

Met seismologiese ondersoeke is vasgestel dat die digtheid van die Aarde op 2 900 km skielik toeneem, van ongeveer 5 500 tot 10 000 kg/m3, wat dui op ’n skielike verandering van die chemiese samestelling. Die kern bestaan grotendeels uit nikkelyster. Die grens tussen die mantel en kern word die Wiechert-Gutenberg-diskontinuïteit genoem.

Die aardkern word verdeel in ’n vaste binnekern en ’n vloeibare buitekern.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne