Buckingham-paleis

Die voorkant, of oostekant, van Buckingham-paleis. Dit is oorspronklik deur die argitek Edward Blore gebou en in 1850 voltooi. Sir Aston Webb het dit in 1913 herontwerp.
Koningin Victoria, die eerste monarg wat in Buckingham-paleis gewoon het, het in die pas voltooide paleis ingetrek ná haar troonbestyging in 1837.

Buckingham-paleis (Engels: Buckingham Palace) is die amptelike woning van die Britse monarg in Londen. Dit is in Westminster geleë en staatsgeleenthede en koninklike onthale word hier gehou. Dit het ook ’n groot toerisme-aantrekking en dele van die gebou is sedert 1995 vir toeriste oop.[1]

Die paleis was oorspronklik bekend as Buckingham House. Die gebou wat tans die kern van die paleis vorm, was ’n groot huis wat in 1703 vir John Sheffield, die Hertog van Buckingham, gebou is en in 1761 deur koning George III[2] gekoop is as ’n privaat woning, bekend as The Queen's House.

Dit is die afgelope 75 jaar vergroot, grootliks deur die argitekte John Nash en Edward Blore. Buckingham-paleis het in 1837 die amptelike koninklike woning geword toe koningin Victoria die troon bestyg. Die laaste groot veranderings is in die laat 19de en vroeë 20ste eeu aangebring; dit sluit die aanbou van die oosvleuel in met die bekende balkon waarop die koninklike familie tradisioneel byeenkom om die skare buite te groet. Die paleiskapel is egter tydens die Tweede Wêreldoorlog deur ’n Duitse bom verwoes. Die Queen's Gallery is in die plek daarvan gebou en het in 1962 vir die publiek geopen met werke van die Koninklike Versameling wat daar uitgestal word.

Die oorspronklike vroeë 19de-eeuse binneversiering, waarvan ’n groot deel nog bestaan, sluit in die kwistige gebruik van helderkleurige nagemaakte marmer en blou en pienk lapis. Koning Edward VII het herversierings laat doen in ’n room- en goudkleurige Belle Époque-styl. Baie kleiner onthaalsale is gemeubileer in die Chinese regentskapstyl met bybehore uit die Royal Pavilion in Brighton en Carlton House. Die paleistuin is die grootste privaat tuin in Londen.

Die staatskamers, wat vir amptelike en staatsonthale gebruik word, is elke jaar van Augustus tot September vir die publiek oop. Koningin Elizabeth II en lede van die koningsgesin gebruik die paleis vir amptelike en staatsonthale. Die paleis het sy eie poskantoor en die unieke poskode SW1A 1AA.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named rob14

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne