Droom

Die Ridder se Droom, deur Antonio de Pereda (1655).

’n Droom is ’n opeenvolging van beelde, idees, emosies en sensasies wat gewoonlik onwillekeurig in die gedagtes voorkom tydens sekere stadiums van slaap.[1] Die inhoud en doel van drome word nie heeltemal verstaan nie, hoewel hulle deur die aangetekende geskiedenis die onderwerp van wetenskaplike, filosofiese en godsdienstige belang was. Die vertolking van drome is die poging om die betekenis van drome uit te lê en ’n onderliggende boodskap te soek. Die wetenskaplike studie van drome word oneirologie genoem.[2]

Drome kom veral in die REM-fase[3] (met vinnige oogbewegings) van slaap voor – wanneer breinaktiwiteit hoog is en ooreenkom met wanneer ’n persoon wakker is. REM-slaap is sigbaar deur middel van voortdurende bewegings van die oë tydens slaap. Soms kom drome ook in ander stadiums van slaap voor. Hierdie drome is egter geneig om baie minder helder of onthoubaar te wees.[4]

Die lengte van ’n droom kan wissel; hulle kan ’n paar sekondes of sowat 20-30 minute duur.[4] Mense is meer geneig om ’n droom te onthou as hulle tydens die REM-fase wakker word. Die gemiddelde persoon het drie tot vyf drome per nag, maar dit kon tot sewe wees.[5] Die meeste drome word egter dadelik of gou vergeet.[6] Drome is geneig om langer te duur namate die nag vorder. In ’n tydperk van agt uur slaap, kom die meeste drome in die gewoonlik twee uur van REM voor.[7] Drome wat verband hou met ondervindings wanneer ’n persoon wakker is, word verbind met REM-theta-aktiwiteit, wat daarop dui dat die prosessering van die emosionele geheue in REM-slaap plaasvind.[8]

Menings oor die betekenis van drome het deur tye en kulture verander. Baie mense onderskryf die Freudiaanse teorie van drome – dat hulle insig in verskuilde begeertes en emosies verleen. Ander prominente teorieë sluit in dié waarvolgens drome help in die vorming van die geheue, probleme oplos of bloot ’n neweproduk van lukrake breinaktiwiteit is.[9]

Sigmund Freud, wat die sielkundige dissipline psigoanalise ontwikkel het, het in die vroeë 1900's uitgebreid oor droomteorieë en hulle vertolkings geskryf.[10] Hy het drome verklaar as die manifestasie van ’n mens se diepste begeertes en vrese, wat dikwels verband hou met onderdrukte kinderherinneringe of obsessies. Hy het verder geglo dat feitlik elke droomonderwerp, ongeag die inhoud daarvan, die verligting van seksuele spanning verteenwoordig.[11] In The Interpretation of Dreams (1899) het Freud ’n sielkundige tegniek ontwikkel om drome te vertolk en ’n reeks riglyne ontwerp om die simbole en motiewe te verstaan wat in drome voorkom.

In moderne tye word drome beskou as ’n verbinding tot die onderbewussyn. Hulle wissel van normaal en gewoon tot oormatig surrealisties en bisar. Drome se aard kan verskil; dit kan vreesaanjaend, opwindend, magies, melancholies, avontuurlik of seksueel wees. Die gebeure in drome is gewoonlik buite beheer van die dromer, met die uitsondering van wanneer iemand bewus van sy omgewing is.[12] Soms kry iemand ’n skeppende idee in sy drome of gee dit hom inspirasie.[13]

  1. "Dream". The American Heritage Dictionary of the English Language, 4de uitg. 2000. Besoek op 7 Mei 2009.
  2. Kavanau, J.L. (2000). "Sleep, memory maintenance, and mental disorders". Journal of Neuropsychiatry and Clinical Neurosciences. 12 (2): 199–208. doi:10.1176/jnp.12.2.199. PMID 11001598.
  3. "REM" in die AWS. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig). Besoek op 19 Augustus 2020.
  4. 4,0 4,1 Hobson, J.A. (2009). "REM sleep and dreaming: towards a theory of protoconsciousness". Nature Reviews Neuroscience. 10 (11): 803–813. doi:10.1038/nrn2716. PMID 19794431.
  5. Empson, J. (2002). Sleep and dreaming (3de uitg.)., New York: Palgrave/St. Martin's Press
  6. Cherry, Kendra. (2015). "10 Facts About Dreams: What Researchers Have Discovered About Dreams Geargiveer 21 Februarie 2016 op Wayback Machine." About Education: Psychology. About.com.
  7. Ann, Lee (27 Januarie 2005). "HowStuffWorks "Dreams: Stages of Sleep"". Science.howstuffworks.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Mei 2012. Besoek op 11 Augustus 2012.
  8. Eichenlaub, Jean-Baptiste; van Rijn, Elaine; Gaskell, M Gareth; Lewis, Penelope A; Maby, Emmanuel; Malinowski, Josie E; Walker, Matthew P; Boy, Frederic; Blagrove, Mark (1 Junie 2018). "Incorporation of recent waking-life experiences in dreams correlates with frontal theta activity in REM sleep". Social Cognitive and Affective Neuroscience. 13 (6): 637–647. doi:10.1093/scan/nsy041. ISSN 1749-5016. PMC 6022568. PMID 29868897.
  9. Morewedge, Carey K.; Norton, Michael I. (2009). "When dreaming is believing: The (motivated) interpretation of dreams". Journal of Personality and Social Psychology. 96 (2): 249–264. doi:10.1037/a0013264. PMID 19159131. S2CID 5706448.
  10. Freud, S. (1900). The Interpretation of Dreams. Londen: Hogarth Press
  11. Cheung, Theresa (2006). The Dream Dictionary from A to Z. China: HarperElement. p. 437.
  12. Lite, Jordan (29 Julie 2010). "How Can You Control Your Dreams?". Scientific America. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Februarie 2015.
  13. Domhoff, W. (2002). The scientific study of dreams. APA Press

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne