Dylan Thomas

Dylan Thomas
Standbeeld van Dylan Thomas, Maritieme kwartier, Swansea
Gebore
Dylan Marlais Thomas

(1914-10-27)27 Oktober 1914
Swansea, Wallis, Verenigde Koninkryk
Sterf9 November 1953 (op 39)
Greenwich Village, New York Stad, Verenigde State
BeroepDigter en skrywer
EggenootCaitlin Thomas (née Macnamara)
Kinders3, insluitende Aeronwy Bryn Thomas

Dylan Marlais Thomas (27 Oktober 1914 – 9 November 1953) [1] was 'n Walliese digter en skrywer. Hy is veral bekend om sy gedigte "Do not go gentle into that good night" en "And death shall have no dominion", die radiodrama "Under Milk Wood", en radiouitsendings soos "A Child's Christmas in Wales" en "Portrait of the Artist as a Young Dog".[2] Ten tyde van sy dood het hy 'n reputasie gehad as 'n "roistering, drunken and doomed poet".[3]

Thomas is in 1914 in Swansea, Wallis, gebore. In 1931 het hy op 16-jarige leeftyd sy skoolloopbaan opgesê en as verslaggewer vir die South Wales Daily Post begin werk. Baie van sy werke het in druk verskyn tydens sy tienerjare. In 1934 het die publikasie van sy gedig "Light breaks where no sun shines", die literêre wêreld op hol geneem. Terwyl hy in Londen gewoon het, het hy vir Caitlin Macnamara ontmoet. Hulle is in 1937 getroud, en het drie kinders gehad: Llewelyn, Aeronwy, en Colm.

Thomas is gedurende sy leeftyd as digter bewonder, hoewel hy die lewe van 'n skrywer veeleisend gevind het. Hy het begin om sy inkomste aan te vul met leestoere en radiouitsendings. In die 1940's het sy radio opnames vir die BBC die aandag van die publiek getrek, en is hy verskeie kere deur die BBC gebruik. Thomas het die eerste keer in die 1950's na die Verenigde State gereis. Sy voordragte aldaar het aan hom 'n mate van bekendheid besorg, terwyl sy onvoorspelbare gedrag en drankverbruik toegeneem het. Sy tyd in die VSA het sy reputasie verstewig, en hy het voortgegaan om werke soos "A Child's Christmas in Wales" op te neem. Gedurende sy vierde besoek aan New York in 1953 het Thomas ernstig siek geword en in 'n koma verval. Hy sterf op 9 November 1953, waarna sy liggaam teruggeneem is na Wallis. Hy is op 25 November 1953 in die St Martin's-kerkhof in Laugharne, Carmarthenshire, begrawe.

Alhoewel Thomas uitsluitlik in Engels geskryf het, word hy erken as een van die belangrikste Walliese digters van die 20ste eeu. Hy word veral onthou vir sy oorspronklike, ritmiese, vernuftige en vindingryke gebruik van woorde en beeldspraak.[4][5][6][7] Sy reputasie as een van die belangrikste en relevantste moderne digters is stewig gevestig, en hy bly een van die gewildste digters onder die publiek.[8][9]

  1. "Dylan Thomas". Encyclopædia Britannica. 
  2. "Did hard-living or medical neglect kill Dylan Thomas?". BBC. 8 November 2013. Besoek op 20 April 2014.
  3. Davies, John; Jenkins, Nigel; Menna, Baines; Lynch, Peredur I., reds. (2008). The Welsh Academy Encyclopaedia of Wales. Cardiff: University of Wales Press. pp. 861–862. ISBN 978-0-7083-1953-6.
  4. Ciabattari, Jane (21 Oktober 2014). "Dylan Thomas: Rock 'n' roll poet". bbc.com. Besoek op 10 Mei 2020.
  5. Morton, Richard (1 Januarie 1962). "Notes on the imagery of Dylan Thomas". English Studies. 43 (1–6): 155–164. doi:10.1080/00138386208597117.
  6. Tindall, William York (1 September 1996). A Reader's Guide to Dylan Thomas. Syracuse University Press. ISBN 9780815604013. Besoek op 10 Mei 2020 – via Google Books.
  7. Moynihan, William T. (1964). "Dylan Thomas and the "Biblical Rhythm"". PMLA. 79 (5): 631–647. doi:10.2307/461150. JSTOR 461150. S2CID 164050426.
  8. Jones, John Idris (27 Augustus 2012). "Dylan Thomas: a Great Poet?". Wales Arts Review. Besoek op 10 Mei 2020.
  9. "About Dylan Thomas: Academy of American Poets". poets.org. Besoek op 10 Mei 2020.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne