Gelykstroom

Gelykstroom (GS) is die eenrigting vloei van elektriese lading. 'n Battery is 'n goeie voorbeeld van 'n GS kragbron. Gelykstroom kan in 'n geleier soos 'n elektriese draad of deur halfgeleiers vloei. Die elektriese stroom vloei konstant in dieselfde rigting, wat GS onderskei van wisselstroom (WS), waar die rigting van die stroom verander. GS het voorheen ook bekend gestaan as galvaniese stroom.[1]

Gelykstroom kan omgeskakel word vanaf wisselstroom deur die gebruik van 'n gelykrigter, wat elektroniese elemente bevat wat stroomvloei slegs in een rigting toelaat, soos diodes. Gelykstroom kan na wisselstroom omgeskakel word deur 'n omsetter. 

Gelykstroom word gebruik om batterye te laai of as kragbronne vir elektroniese stelsels. Baie hoë hoeveelhede GS krag word gebruik in elektrochemiese prosesse soos die onttrekking en verwerking van aluminium. Dit word ook gebruik in sommige spoorweë, veral in stedelike gebiede. Alhoewel wisselstroom hoofsaaklik gebruik word in transmissielyne vanaf kragstasies, word hoëspanning gelykstroom ook soms gebruik. 'n Goeie voorbeeld is die 1400 km hoëspanning GS transmissielyn vanaf die Cahora Bassa hidroëlektriese kragstasie in Mosambiek na Johannesburg.

  1. Robinson, Andrew; Snyder-Mackler, Lynn (2007). Clinical Electrophysiology: Electrotherapy and Electrophysiologic Testing (3rd uitg.). Lippincott Williams & Wilkins. p. 10. ISBN 978-0-7817-4484-3.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne