Hout

'n Stapel hout.
'n Bank wat van hout gemaak is.

Hout is 'n harde veselagtige materiaal wat van bome afkomstig is. Hout word gebruik vir die konstruksie van geboue en meubels, en as stutpale in ondergrondse myne. Dit word ook gebruik vir vuurmaak en verhitting. Papier word ook deur 'n chemiese reaksie van hout vervaardig.

Bome kan in hulle natuurlike habitat afgekap word, maar om die produksie van hout volhoubaar te maak, word groot areas land met bome (soos dennebome) beplant. Elke jaar (of paar jaar) word 'n deel van 'n plantasie afgekap en 'n deel weer oorgeplant. Die aanplant en oes van bome word so beheer dat dit 'n konstante jaarlikse produksie kan lewer.

'n Houtkapper is 'n persoon wat bome afkap. Sodra die boom val, word die sytakke verwyder sodat net 'n lang reguit stam oorbly. Die stam word dan na 'n meule vervoer waar dit in lang reguit stukke planke (timmerhout) opgesaag word. Die timmerhout word dan as boumateriaal gebruik of verder verwerk. Spykers, skroewe, of selfs gom kan gebruik word om hout aan mekaar te heg om ander vorme, soos houtrame, te skep.

Die proses word soms geoutomatiseer met masjiene wat 'n boom in een beweging optel, van sy bas stroop en op 'n vragmotor laai. Minder werkers word dus benodig om bome tot by die fabrieke, waar dit verwerk gaan word, te neem. Dit maak die proses meer doeltreffend en kan tot groot besparings lei.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne