Kampioenetrofee

Kampioenetrofee
Kampioenetrofee 2025
Sportsoort EDI-krieket
Gestig 1998
Eienaar Internasionale Krieketraad
Inwydingseisoen Kampioenetrofee 1998
Deelnemende lande wêreldwyd
Aantal spanne 13 (alle toernooie)
8 (vanaf 2024)[1]
Mees onlangse kampioen Vlag van Pakistan Pakistan (2017)
Verwante kompetisies Krieketwêreldbeker, o/19-krieketwêreldbeker, T20I-wêreldbeker, Wêreldtoetskampioenskap

Die Kampioenetrofee (Engels: ICC Champions Trophy) is ’n internasionale krieketkompetisie wat al om die vier jaar gehou word om die EDI-krieketkampioen te bepaal. Dié toernooi is die derde belangrikste en derde bekendste in internasionale krieket net ná die Krieketwêreldbeker in EDIs en die T20I-wêreldbeker in T20Is en word deur die Internasionale Krieketraad georganiseer.

Tot op hede is agt toernooie beslis met Australië en Indië wat dié toernooi twee keer gewen het. Die eerste Kampioenetrofee 1998 in Bangladesj is deur Suid-Afrika gewen, nadat hulle Wes-Indië in die eindstryd op die Bangabandhu Nasionale Stadion in Dhaka verslaan het. Die Kampioenetrofee 2000 in Kenia is deur Nieu-Seeland gewen wat Indië in die eindstryd op die Gymkhana Klubveld in Nairobi geklop het. Tydens die Kampioenetrofee 2002 in Sri Lanka het die gasheer die titel met Indië gedeel, nadat die eindstryd twee keer uitgereën het. Tydens die Kampioenetrofee 2004 in Engeland het Wes-Indië met die trofee weggestap nadat hulle die gasheer in die eindstryd verslaan het.

Die Kampioenetrofee 2006 in Indië is deur Australië gewen, nadat hulle die verdedigende kampioen Wes-Indië verslaan het. Die Kampioenetrofee 2009 in Suid-Afrika is deur die verdedigende kampioen Australië gewen, nadat hulle Nieu-Seeland verslaan en sodoende die eerste span geword het om hul titel suksesvol te verdedig. Die Kampioenetrofee 2013 in Engeland en Wallis is deur Indië gewen, nadat hulle die gasheer verslaan en sodoende die tweede span geword het om dié toernooi twee keer te wen. Pakistan is die huidige kampioen, nadat hulle in die Kampioenetrofee 2017 se eindstryd hul aartsvyand Indië verslaan en hul eerste Kampioenetrofeetitel ingepalm het.

  1. (en) Nagraj Gollapudi (1 Junie 2021). "ICC expands men's world events: ODI WC to 14 teams, T20 WC to 20 teams". ESPNcricinfo. Besoek op 12 Desember 2022.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne