Kampioenetrofee 2013

Kampioenetrofee 2013

Kenteken van die Kampioenetrofee 2013
Datums 6 Junie – 23 Junie
Bestuurder Internasionale Krieketraad (IKR)
Krieketformaat Internasionale eendagkrieket (EDI)
Toernooiformaat Groep- en uitklopfase
Gashere Vlag van Engeland Engeland
Vlag van Wallis Wallis
Kampioen Vlag van Indië Indië (2de titel)
Naaswenner Vlag van Engeland Engeland
Deelnemers 8
Wedstryde gespeel 15
Speler van die reeks Vlag van Indië Shikhar Dhawan
Meeste lopies Vlag van Indië Shikhar Dhawan (363)[1]
Meeste paaltjies Vlag van Indië Ravindra Jadeja (12)[2]
2009
2017

Die Kampioenetrofee 2013 (Engels: 2013 ICC Champions Trophy) is van 6 tot 23 Junie 2013 in Engeland en Wallis beslis. Dit was die sewende Kampioenetrofee in EDI-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is.

Die toernooi se formaat van 2009 het onveranderd gebly en die destydse agt beste nasionale spanne op die EDI-ranglys het aan die Kampioenetrofee 2013 deelgeneem: Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië. Die spanne is in twee groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne van die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet.

Engeland, Indië, Sri Lanka en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Engeland het Suid-Afrika en Indië het Sri Lanka geklop, waardeur Engeland en Indië in die eindstryd ontmoet het. In die eindstryd op Edgbaston in Birmingham het Indië die gasheer met vyf lopies (D/L-metode) verslaan en sodoende sy tweede Kampioenetrofeetitel gewen. Saam met hul oorwinnings tydens die krieketwêreldbekertoernooie in 1983 en 2011, die T20I-wêreldbeker 2007 en die gedeelde titel met Sri Lanka tydens die Kampioenetrofee 2002 was dit Indië se vierde internasionale kriekettitel. Die verdedigende kampioen Australië is reeds in die groepfase uitgeskakel.

Dit sou oorspronklik die laaste Kampioenetrofee gewees het en in 2017 deur die Wêreldtoetskampioenskap vervang word,[3] maar in Januarie 2014 is dié plan herroep en aangekondig dat in 2017 wel ’n Kampioenetrofee sal plaasvind en die Wêreldtoetskampioenskap gekanselleer is.[4]

  1. (en) "Records in ICC Champions Trophy, 2013 – Most Runs". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  2. (en) "Records in ICC Champions Trophy, 2013 – Most Wickets". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  3. (en) Tariq Engineer (17 April 2012). "No Champions Trophy after 2013". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  4. (en) "No Test Championship, Champions Trophy to continue: ICC". Zee News. 8 Februarie 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Desember 2021. Besoek op 8 Desember 2021.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne