Kant (materiaal)

19de eeuse gehekelde katoen van Orvieto, Unbria, Italië by die Berkeley Kuns Museum.

Kant is 'n vlegwerk van garingdrade wat met behulp van 'n naald of ʼn klos op 'n bepaalde manier gekruis en geslinger is sodat daar 'n netwerk van sierlike patrone ontstaan. Dit word gebruik as versiering op klere (byvoorbeeld op krae en mou· boordjies), maar ook vir groter stukke soos bedspreie en altaarklede.

Vanweë die intensiewe arbeid wat by die vervaardiging betrokke is, word byna alle kant vandag met masjiene gemaak. Daar word tussen 2 soorte kant onderskei: naaldkant en kloskant, wat elkeen op 'n ander manier vervaardig word. Vir naaldkant, wat in die 16e eeu ontwikkel het, word 'n patroon op perkament geteken en op 'n dubbele laag grondstof vasgesit om stewigheid te verleen. Om die buitekant van die patroon word 'n kontoerdraad gevorm wat met hegsteke aan die grondstof vasgeryg word.

Die buitelyne van die patrone word nou met hegsteke om die kontoerdraad gevorm (om hulle in posisie te hou). Hierdie buitelyne word vervolgens met festoensteke omgewerk en die openinge ingevul. Wanneer die patroon voltooi is, word die hegsteke om die buitenste kontoerlyn losgeknip om die grondstof te verwyder, en die kantstof bly alleen oor. Omdat daar by naaldkant algemene steke soos festoensteek, knoopsgatsteek en steelsteek gebruik word, het hierdie tegniek baie gou gewild geword.

By kloskant word spelde volgens 'n bepaalde patroon op 'n kantkussing gesteek en garingdrade wat om klosse gedraai is, word op verskillende maniere heen en weer oor mekaar geslinger. Die spelde dien om die steke in posisie te hou. Kloskant (in Oud-Nederlands ook speldewerk genoem) is veral in Vlaandere gemaak, wat beroemd was om sy buitengewoon fyn gespinde linnegaring. Kant is ook van sy gemaak en het bekend gestaan as "blonde" omdat die natuurlike kleur van die sydraad geelbeige is. Ook vir kant van wit of swart sy is die term "blonde" gebruik.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne