Katalaans

Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Katalane.
Katalaans
català 
Uitspraak: [kətəˈla] of [kataˈla]
Gepraat in: Vlag van Andorra Andorra
Vlag van Frankryk Frankryk
Vlag van Spanje Spanje
Vlag van Italië Italië 
Gebied: Suid-Europa
Totale sprekers: 4 miljoen (moedertaal)
5,2 miljoen (tweede taal)[1] 
Rang: 93
Taalfamilie: Indo-Europees
 Romaans
  Wes-Romaans
   Gallo-Iberies
    Galloromaans
     Oksitaans-Romaans
      Katalaans 
Skrifstelsel: Latynse alfabet 
Amptelike status
Amptelike taal in: Vlag van Andorra Andorra
Vlag van Spanje Spanje
Gereguleer deur: Institut d'Estudis Catalans
Acadèmia Valenciana de la Llengua
Taalkodes
ISO 639-1: ca
ISO 639-2: cat
ISO 639-3: cat 
Verspreiding van Katalaans in Europa

Katalaans (català [kətəˈla] of [kataˈla]) is 'n taal wat in Katalonië (die noordooste van Spanje), in die Pais Valencià, op die Baleariese Eilande, in Andorra (as amptelike taal) en in die Suid-Franse département Pyrénées-Orientales deur meer as 10 miljoen mense gepraat word. Dit is 'n Romaanse taal wat ooreenkomste toon met Spaans, maar nog meer met Oksitaans, wat in Suid-Frankryk gepraat word.

Die dialekte van Katalaans. Sowat 12 000 Katalane leef in die Sardiese stad Alghero (Katalaans: L'Alguer)

Net soos met die ander Romaanse tale is die oorsprong te vinde in Latyn uit die Romeinse tydperk, soos dit deur die gewone mense gepraat is. Verskille met Spaans sluit in die gebruik van die "F" in Katalaans, in plaas van die "H" in Spaans in woorde soos "Fer"-Hacer (doen), "Ferro"-Hierro (yster) en "Farina"-Harina (meel). In teenstelling met Spaans het die klinkers drie verskillende variante in Katalaans, naamlik die oop, geslote en stom klank. Verder kom die "Ç" ook voor en ken Katalaans, behalwe die "LL" (LJ-klank uit Spaans) ook 'n "L·L" wat klink soos 'n VET "L": "parcel·la" (perseel). Die Spaanse "Ñ" word in Katalaans geskryf deur die "NY"-kombinasie soos in "Catalunya" (Cataluña, Katalonië) en "Espanya" (España, Spanje).

Katalaans het verskillende dialekte. Mens spreek byvoorbeeld in Valencia die "T" aan die einde van 'n woord uit, of mens gebruik "sa" en "ses" op die Baleariese Eilande as dit om 'n plek- of eiendomsaanduiding gaan. 'n Ou vorm van Katalaans word in Alghero (Sardinië) gepraat.

Vir lang tye was die taal in Spanje verbode, byvoorbeeld tussen omstreeks 1 500 en 1 800 maar ook meer onlangs onder die Francisco Franco-regime. Nou is die taal weer in opgang en kom weer algemeen voor. Om in diens van die Katalaanse owerheid te tree is mens verplig om perfekte skryf- en praatvermoë in Katalaans te hê. Ook in die onderwys in Katalonië word hoofsaaklik Katalaans gebruik, en die Spaanse taal word as 'n gewone vak in Katalaans gegee. Aan die universiteite in Katalonië word uitsluitlik in Katalaans (of Engels) gedoseer. Daar is dan ook in Barcelona byna meer Katalaans te sien as Kastiliaans, die amptelike Spaans.

Die skryf van Katalaans word bemoeilik deur die aksentuering, wat ingewikkelde reëls het, en die verandering van die slotklinkers in enkel- en meervoud. Iemand wat Spaans praat sal Katalaans as 'n heeltemal ander taal ervaar, soortgelyk aan die verskil tussen Duits en Afrikaans.

Enkele voorbeelde:

Katalaans Spaans
Vaig al supermercat. Voy al supermercado.
He treballat pels bombers. He trabajado para los bomberos.
No ho puc fer. No puedo hacerlo.
Fins demà. Hasta mañana.
Adéu! ¡Adiós!
Si us plau. Por favor.
Forquilla. Tenedor.
Hem sopat. Hemos cenado.
  1. "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Catalan" (in Engels). Ethnologue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2020. Besoek op 23 Maart 2016.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne