Katmandoe

Katmandoe
काठमांडौ
येँ महानगरपालिका

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Nepal Nepal
 Provinsie Sentraal
 Koördinate 27°42′N 85°20′O / 27.700°N 85.333°O / 27.700; 85.333
 Stigting 9de eeu
 Oppervlakte:  
 - Totaal 50,67 vk km
 Hoogte bo seevlak 1 400 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2021) 845 767
 - Bevolkingsdigtheid 17 103/vk km
 - Metropool (2021) 2,9 miljoen
(Katmandoevallei)
 Tydsone UTC+05:45
 Burgemeester Balen Shah
 Amptelike webwerf kathmandu.gov.np

Katmandoe (Nepalees: काठमांडौ, [kaʈʰmaɳɖu]; Newari: येँ महानगरपालिका) is die hoofstad en digsbevolkte stad van Nepal. Die stad het 'n bevolking van 845  767 inwoners wat in 2021 in 105 649 huishoudings gewoon het en 2,9 miljoen mense in sy stedelike agglomerasie.[1] en 'n oppervlakte van 50,67 km².

Dit is geleë in die Katmandoe-vallei, 'n groot vallei op die hoë plato's in sentraal-Nepal, op 'n hoogte van 1 400 meter. Dit is die tweede grootste stad in die Himalaja-heuwelstreek naas Srinagar, en die grootste metropolitaanse streek in die Himalajas.

Die stad is een van die oudste voortdurend bewoonde plekke in die wêreld, gestig in die 2de eeu n.C.. Die vallei is histories die "Nepal Mandala" genoem en was die tuiste van die Newar-mense, 'n kosmopolitiese stedelike beskawing in die Himalaja- voetheuwels. Die stad was die koninklike hoofstad van die Koninkryk van Nepal en huisves paleise, herehuise en tuine van die Nepalese aristokrasie. Dit is sedert 1985 die tuiste van die hoofkwartier van die Suid-Asiatiese Vereniging vir Streekssamewerking (SAARC). Vandag is dit die regeringsetel van die Nepalese republiek, gestig in 2008, en is deel van die Bagmati-provinsie.

Katmandoe is en was vir baie jare die middelpunt van Nepal se geskiedenis, kuns, kultuur en ekonomie. Dit het 'n multi-etniese bevolking binne 'n Hindoe- en Boeddhistiese meerderheid. Godsdienstige en kulturele feestelikhede vorm 'n belangrike deel van die lewens van mense wat in Katmandoe woon. Toerisme is 'n belangrike deel van die ekonomie in die stad. In 2013 was Katmandoe derde onder die top tien opkomende reisbestemmings in die wêreld volgens TripAdvisor, en eerste in Asië. Die stad word beskou as die poort na die Nepalese Himalajas en is die tuiste van verskeie wêrelderfenisgebiede: die Durbar-plein, Swayambhunath, Boudhanath en Pashupatinath. Katmandoe-vallei groei volgens die Wêreldbank in 2010 teen 4 persent per jaar, wat dit een van die vinnigsgroeiende metropolitaanse gebiede in Suid-Asië maak, en die eerste streek in Nepal wat die ongekende uitdagings van vinnige verstedeliking en modernisering teen 'n metropolitaanse skaal bemeester.[2]

Die historiese gebiede van Katmandoe is ernstig beskadig deur 'n aardbewing van 7,8 in April 2015. Sommige van die geboue is gerestoureer terwyl sommige nog in die proses van heropbou is.

  1. "www.cbs.gov.np". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Desember 2007. Besoek op 14 Junie 2008.
  2. "Managing Nepal's Urban Transition" (in Engels). World Bank. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 November 2019. Besoek op 1 Desember 2019.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne