Olimpiese Somerspele 1936

Spele van die XIe Olimpiade
Olimpiesespele van 1936

Gehou in Berlyn, Duitsland
Deelnemende lande 49 Nasionale Olimpiese Komitees
Deelnemende atlete 3 963 (3 632 mans, 331 vroue)[1]
Items 129 in 19 sporte[2]
Openingseremonie 1 Augustus 1936
Sluitingseremonie 16 Augustus 1936
Amptelik geopen deur Kanselier Adolf Hitler[3]
Atlete-eed Rudolph Ismayr (gewigoptel)
Beampte-eed (sedert 1972)
Olimpiese vlam Fritz Schilgen (atletiek)
Vorige Spele 1932: Los Angeles (VSA)
Volgende Spele 1940: Helsinki (Finland)

Die Olimpiese Somerspele 1936 (Duits: Olympische Sommerspiele 1936), amptelik bekend as die Spele van die XIde Olimpiade, is tussen 1 en 16 Augustus 1936 in Berlyn, Nazi-Duitsland, aangebied. In 1931 is Berlyn deur die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) bo Barcelona as gasheer vir die Spele verkies. Berlyn het 43 teenoor Barcelona se 16 stemme gekry. In 1936 het die destydse Nazi-Duitsland ook die Olimpiese Winterspele aangebied, in Garmisch-Partenkirchen in die Alpe. Dit was die laaste Olimpiese Somerspele voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog drie jaar later, wat met die Duitse Inval van Pole begin het.

Die Olimpiese Stadion in Berlyn tydens die Olimpiese Somerspele 1936
Jesse Owens tydens die mans se verspring

Toe Adolf Hitler in Januarie 1933 aan bewind kom as kanselier, klink daar stemme op om die Spele na 'n ander land te verskuif. In die Verenigde State was daar selfs 'n veldtog om die Spele te boikot. Avery Brundage, die voorsitter van die Amerikaanse Olimpiese Komitee, spreek hom teen 'n verskuiwing van die Spele uit, en hy kry ook steun van De Coubertin. Net die Sowjetunie het hierdie spele geboikot.[4] Spanje bly weg omdat dit deur 'n burgeroorlog verskeur is.

Hoewel die Spele dus aan Berlyn toegeken is voordat die Nazi's in Duitsland aan bewind gekom het, sien die owerheid die Spele as 'n geleentheid om sy fascistiese ideologie uit te dra. Leni Riefenstahl was aangestel om 'n film oor die Spele te maak. Die film Olympia kan as propaganda bestempel word, maar gebruik 'n getal ongewone tegnieke wat destyds nog nie in sportfilms aangewend is nie. Dit was ook die eerste Olimpiese Spele wat op televisie gebeeldsend is en radio-uitsendings het 41 lande bereik.

Om soveel moontlik oorwinnings te verseker, stel die Duitse owerheid anaboliese steroïde en testosteroon aan hulle atlete beskikbaar. Duitsland oorheers die Spele en het heelwat meer medaljes as enige ander land ingepalm. In 'n weerlegging van die rassistiese Nazi-filosofie, verower die Afro-Amerikaner Jesse Owens egter vier goue medaljes. Owens was gewild onder die toeskouers en Duitse publiek en is meer entoesiasties as in sy tuisland ontvang.[5] Hitler besluit egter om geen medaljes persoonlik toe te ken nie, moontlik omdat die Afro-Amerikaner Cornelius Johnson op die eerste dag van die Spele 'n goue medalje verower het.[5]

Die superioriteit van die Reich kom ook tot uiting in die oorweldigende infrastruktuur wat vir die Spele opgerig is: 'n splinternuwe stadion is gebou ten weste van die Charlottenburg-kasteel met sitplek vir honderdduisend toeskouers. Langsaan is die swembad met sitplek vir twintigduisend toeskouers opgerig.

Hitler pas die Olimpiese handves tot die letter toe en beloof om nie 'n enkele toespraak tydens die Spele te hou nie. Verder pas hy ook geen rassediskriminasie tydens die Spele toe nie. Getuie hiervan was die opname van die Joodse skermster Helena Mayer in die Duitse span. Maar buite die stadion draai die Duitse propagandamasjien volspoed voort: die swastika was oral teenwoordig en daar het meer Nazi- as Olimpiese vlae gewapper. As deel van die Nazi-propaganda is tydens die Olimpiese Somerspele 1936 vir die eerste keer 'n fakkelloop vir die Olimpiese vlam tussen Olimpia in Griekeland en Berlyn aangebied.

  1. (en) "Factsheet – The Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. Desember 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2018. Besoek op 3 Maart 2018.
  2. (en) "Factsheet – The Programme of the Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. Oktober 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 22 April 2020. Besoek op 3 Maart 2018.
  3. (en) "Factsheet – Opening Ceremony of the Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. 11 Januarie 2018. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 25 Desember 2018. Besoek op 3 Maart 2018.
  4. (de) Volker Ullrich (2013). Adolf Hitler. Die Jahre des Aufstiegs 1889–1939. Frankfurt am Main: S. Fischer. p. 622. ISBN 3-10-086005-5.
  5. 5,0 5,1 (en) "German Myth 10: The 1936 Berlin Olympics Hitler and Jesse Owens". About.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2020. Besoek op 3 Maart 2018.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne