Olimpiese Somerspele 1948

Spele van die XIVe Olimpiade
Olimpiesespele van 1948

Gehou in Londen, Verenigde Koninkryk
Deelnemende lande 59 Nasionale Olimpiese Komitees
Deelnemende atlete 4 104 (3 714 mans, 390 vroue)[1]
Items 136 in 17 sporte[2]
Openingseremonie 29 Julie 1948
Sluitingseremonie 14 Augustus 1948
Amptelik geopen deur Koning George VI[3]
Atlete-eed Don Finlay (atletiek)
Beampte-eed (sedert 1972)
Olimpiese vlam John Mark (atletiek)
Vorige Spele 1944: Londen (VK)
Volgende Spele 1952: Helsinki (Finland)

Die Olimpiese Somerspele 1948 (Engels: 1948 Summer Olympics), amptelik bekend as die Spele van die XIVde Olimpiade, is tussen 29 Julie en 14 Augustus 1948 in Londen, Verenigde Koninkryk, aangebied. Londen is bo Baltimore, Lausanne, Los Angeles, Minneapolis en Philadelphia gekies.[4] Na 'n onderbreking van 12 jaar deur die Tweede Wêreldoorlog was dit die eerste Spele sedert die Somerspele van 1936 in Berlyn asook die tweede Olimpiade na die Olimpiese Somerspele 1908 wat in die Britse hoofstad gehou is. Die Olimpiese Winterspele 1948 is in St. Moritz, Switserland, aangebied.

Switserse roeiers het die Olimpiese vlag in 'n langboot vanuit Basel na Londen geneem

Die Somerspele was baie eenvoudig en het later as die Austerity Games bekend gestaan vanweë die ekonomiese klimaat waarin die na-oorlogse Verenigde Koninkryk hom bevind het. Weens die Britse regering se strenge besparingsbeleid is geen nuwe fasiliteite vir die Spele beplan en opgerig nie en atlete in bestaande behuising gehuisves. Die Olimpiese dorp in Uxbridge het uit kasernes bestaan, die vervoer was ontoereikend en voedsel soos vleis, botter, melk en brood was steeds gerantsoeneer.

Daar is ook op die infrastruktuur bespaar en geen nuwe sportplekke is vir die Spele opgerig nie. Die Wembley-stadion, wat eintlik 'n sokkerstadion is, het vir die geleentheid 'n atletiekbaan bygekry. Die nabygeleë Empire Pool is vir beide die saalsporte sowel as die swemkompetisies gebruik. Die fietsry het by die opgeknapte Herne Hill plaasgevind en daar is op die Teemsrivier geroei.

'n Rekordgetal van 59 nasies het aan die Spele deelgeneem en is deur altesaam 4 104 atlete in 17 sportdissiplines verteenwoordig, van wie 3 714 manlik en 390 vroulik was. Weens hul dade tydens die Tweede Wêreldoorlog is Duitsland en Japan deelname aan die Spele geweier. Die Sowjetunie is uitgenodig maar het verkies om geen atlete na Londen te stuur nie.[5]

  1. "Factsheet – The Games of the Olympiad" (PDF) (in Engels). Internasionale Olimpiese Komitee. Desember 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2018. Besoek op 4 Maart 2018.
  2. "Factsheet – The Programme of the Games of the Olympiad" (PDF) (in Engels). Internasionale Olimpiese Komitee. Oktober 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 22 April 2020. Besoek op 4 Maart 2018.
  3. "Factsheet – Opening Ceremony of the Games of the Olympiad" (PDF) (in Engels). Internasionale Olimpiese Komitee. 11 Januarie 2018. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 25 Desember 2018. Besoek op 4 Maart 2018.
  4. "Past Olympic host city election results" (in Engels). GamesBids. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 November 2018. Besoek op 4 Maart 2018.
  5. "'A very British Olympics'" (in Engels). BBC Sport. 18 Oktober 2005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Junie 2018. Besoek op 4 Maart 2018.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne