Prins van Wallis

Prins van Wallis
Tywysog Cymru

William, die huidige Prins van Wallis.
William, die huidige Prins van Wallis.
Geskep 12de eeu
Huidige houer Prins William
Aanspreekvorm Koninklike Hoogheid
Tuiste Adelaide Cottage
Eerste Engelse houer Prins Eduard
Status In gebruik
Webtuiste www.princeofwales.gov.uk

Prins van Wallis (Wallies: Tywysog Cymru) was ’n titel wat van die 12de eeu af gegee is aan prinse wat in Wallis gebore is; die term het die vroeëre gebruik van die woord koning vervang. Een van die laaste Walliese prinse, Llywelyn ap Gruffudd, is in 1282 in ’n veldslag deur koning Eduard I van Engeland verslaan. Dié se seun Eduard (wat in Caernarfon-kasteel in Wallis gebore is) is in 1301 aangewys as die eerste Engelse Prins van Wallis.

Sedert die 14de eeu word die titel gegee aan die regmatige opvolger van die Britse monarg, maar as hy dit nie kry nie, het dit geen invloed op sy aanspraak op die troon nie. Die titel word as ’n persoonlike eerbewys aan die regmatige troonopvolger gegee en is nie oorerfbaar nie; as die prins koning word, word die titel vakant en kan dit aan iemand anders toegeken word. Die titel Graaf van Chester word altyd saam met die titel Prins van Wallis toegeken. Hy het gewoonlik ook ander titels.

Die huidige Prins van Wallis is prins William, die oudste seun van die vorige titelhouer, koning Charles III. Die vrou van die prins is geregtig op die titel Prinses van Wallis. Charles se eerste vrou, Diana, het dit gebruik, maar sy tweede vrou, Camilla, het eerder die titel Hertogin van Cornwall gebruik (of van Rothesay as sy in Skotland was)[1] omdat die ander titel so algemeen met Diana verbind is. Prins William se vrou, Catherine, gebruik weer die titel.

Die Prins van Wallis is die regmatige opvolger van die Britse monarg. Geen amptelike openbare rol of verantwoordelikheid gaan saam met die titel of sy posisie as regmatige troonopvolger nie.

  1. Macdonald, Ken (18 Januarie 2017). "Duchess of Rothesay opens Rowett research building in Aberdeen". BBC News (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 November 2018.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne