Ververing

Hierdie Geeloogpikkewyn is besig om te verveer

Ververing is die natuurlike verskynsel by voëls om een maal per jaar (of in sommige gevalle meer as een maal per jaar) hulle verekleed te verwissel deur ou vere met nuwe vere te vervang. Dit kan 'n geleidelike proses wees waarin vere een vir een vervang word - of soms kan 'n sekere deel van die liggaam (bv die vlerk) se vere almal tegelyk vervang word. Voëls kan nooit alle vere tegelyk vervang nie, aangesien die vere hulle moet beskerm en warm hou.

Die ververingsproses kan in verskeie fases verloop en is gewoonlik simmetries. Dit beteken dat die voël weerskante van 'n denkbeeldige middellyn dieselfde vere op dieselfde tyd vervang. So sal byvoorbeeld penveer 2 op die linker- en regtervlerk tegelyk vervang word.

Hoewel vere 'n belangrike rol in die vliegvermoë van 'n voël speel, is dit nie die enigste belangrike funksie nie. Daar is immers voëls wat nie kan vlieg nie, maar wat ook nie sonder vere kan voortbestaan nie. Vere dien ook om die liggaamstemperatuurte beheer. Voëls is warmbloedige diere met 'n hoe liggaamstemperatuur (37,8- 44,6 °C) wat bestendig moet bly, ongeag die temperatuur in die omgewing.

Vere is slegte geleiers van hitte en het ʼn luglaag wat die liggaam isoleer. Wanneer 'n voël dus byvoorbeeld in besoedelde water beland en sy vere met olie besmet word, kleef die vere aanmekaar vas en verloor hulle hul isolasievermoë. Die voel se liggaamstemperatuur daal dan tot hy uiteindelik vrek. 'n Voël se vere speel ook 'n belangrike rol in kamoeflering en paring, en veral om die mannetjie opvallend te maak.

Die aantal vere van 'n voël hang van die betrokke spesie, die jaargety en die klimaat af. Archilochus colubris, of die robynkeelkolibrie, het 940 vere in die Noord-Amerikaanse somer, terwyl Cygnus columbianus, 'n Europese swaan, in die winter meer as 25 000 vere het, Die vere kan ook volgens hulle bepaalde funksies geklassifiseer word. Alie vere bestaan egter uit ʼn skag met sytakkies, wat weer in fyner sytakkies (radii) vertak.

Die basis van die skag (calamus) is hol en die res (rachis) is met murg gevul. Die donsvere (plumulae) beheer die voël se warmte-isolasie. Dit het 'n baie kort skag met los baardjies wat oor die hele liggaam versprei is, in teenstelling met die dekvere, wat net in bepaalde veerkontoere (pterilae) groei en nie in die gebiede daarbuite (apteria) voorkom nie.

Pikkewyne, volstruise en ander loopvoëls is volkome met dekvere bedek. Die funksie van dekvere is om die liggaam vaartbelyn te maak en om 'n luglaag onder die vere te bewerkstellig. Die baardjies van die vere is voorsien van hakies, waarmee hulle onderling (soos ʼn ritssluiter) aan mekaar vashaak en sodoende 'n aaneenlopende veervag vorm.

Die dekvere het dikwels 'n vals skag met donsagtige baarde. Die derde veertipe, die penveer, kom voor in die vlerke (vlerkpenvere of remiges) en in die stert (rectrices of stertpenvere). Die vere het nie vals skagte nie en vorm 'n aaneenlopende vlak wanneer dit uitgesprei word. Hierdeur word die sweefvermoë vergroot. Daar word 2 soorte vlerkpenvere onderskei, naamlik die handpenvere (wat aan die vingers van die vlerk geheg is) en die armpenvere (wat aan die arm van die vlerk geheg is).


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne