Rekenaarvirus

'n Rekenaarvirus is 'n rekenaarprogram wat homself kan kopieer en ander rekenaars kan besmet sonder toestemming of die kennisname van die gebruiker. Die term "virus" word ook dikwels verkeerdelik gebruik om baie ander verskillende soorte kwaadwillige- en advertensie sagteware te beskryf. Die oorspronklike virus kan die kopieë verander of die kopieë kan hulself verander soos in die geval van metamorfiese virusse. 'n Virus kan slegs van een rekenaar na 'n ander versprei as dit na die ander rekenaar oorgedra word, deur dit byvoorbeeld oor 'n netwerk of die Internet te stuur of deur dit vanaf 'n verwyderbare stoormedium soos 'n sagteskyf, CD of USB flitsgeheuestokkie te laai. Virusse kan ook na ander rekenaars versprei word deur netwerk- of ander soorte lêerstelsels te besmet waartoe ander rekenaars toegang verkry. Virusse word ook soms verwar met rekenaarwurm- en Trojaanse perdprogramme. 'n Wurm kan homself na ander rekenaars versprei sonder dat dit 'n ander program as gasheer benodig en 'n Trojaanse perd is 'n lêer wat oënskynlik skadeloos is en voorgee om ander dinge te doen as wat dit in der waarheid doen. Wurms en Trojaanse perde kan egter ook skade aan 'n rekenaarstelsel se data, sy funksionele- en netwerkwerkverrigting, verrig as dit uitgevoer word. Oor die algemeen verrig wurms nie gewoonlik skade aan 'n stelsel se hardeware of sagteware nie terwyl 'n Trojaanse perd bykans enige skadelike funksie kan verrig as dit uitgevoer word. Die programme se uitwerking kan ook nie altyd dadelik waargeneem word nie en daarom is dit nodig dat mense programme loop om virusse en ander skadelike programme op te spoor.

Die meeste persoonlike rekenaars is deesdae aan die Internet en aan lokale area netwerke verbind wat die verspreiding van skadelike kode in die hand werk. Vandag se virusse maak ook gebruik van netwerkdienste soos die Wêreldwye web-, e-pos-, kitsboodskap- en lêerdelingstelsels om hulself te versprei. Dit verdof die grens tussen virusse en wurms nog verder. Daarom word virusse dikwels gebruik om enige vorm van selfvoortplantende kwaadwillige sagteware te beskryf.

Sommige kwaadwillige sagteware is geprogrammeer om 'n rekenaar te beskadig deur sy programme te beskadig, lêers uit te vee of die hardeskyf te formatteer. Ander kwaadwillige programme verrig geen skade aan nie maar plant hulself bloot voort en maak soms hul teenwoordigheid bekend deur teks-, video- of klankboodskappe. Selfs hierdie minder sinistere programme kan probleme skep vir rekenaargebruikers. Hulle kan tipies 'n rekenaar se geheue in beslag neem wat andersins deur gewone programme gebruik sou word. Gevolglik het hulle onvoorspelbare gedrag tot gevolg en kan dit ook lei tot stelsels wat vries of faal.

Sulke sagteware is dikwels ook deurspek met programmeerfoute wat kan lei tot rekenaarfalings en dataverliese. Baie programme word deur gebruikers afgelaai en spring onverwags oop en veroorsaak dat die rekenaar stadiger is. Dit is ook dikwels baie moeilik om die probleem te identifiseer en te verwyder.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne