Sri Lankaanse nasionale krieketspan

Die Sri Lankaanse nasionale krieketspan (Singalees: ශ්‍රී ලංකා ජාතික ක්‍රිකට් කණ්ඩායම; Tamil: இலங்கை தேசிய கிரிக்கெட் அணி), met die bynaam The Lions (Engels vir: „die leeus“), is die nasionale krieketspan wat Sri Lanka in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Sri Lanka Krieket (SLC) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Die span het sy eerste internasionale krieketwedstryd in 1926/27 (as Ceylon) gespeel en in 1981 toetsstatus verkry, wat van Sri Lanka die agtste toetsland, en die derde in Asië, maak. Sri Lanka is tans (Februarie 2025) sesde op die IKR-toetsranglys, sesde op die eendagranglys en agtste die Twintig20-wêreldranglys. Die Sri Lankaanse nasionale krieketspan het in die vroeë 1990’s hul grootste sukses behaal, toe hulle die 1996-krieketwêreldbeker tuis kon wen. Sedertdien het die span tot ’n krag in internasionale krieket ontwikkel. Sri Lanka het ook die eindstryde van die 2007- en 2011-toernooie gehaal, maar hulle het by albei dié toernooie as naaswenners geëindig. Sri Lanka het die krieketwêreldbekertoernooi in 1996 gewen, die Kampioenetrofee 2002-titel met Indië gedeel, is agtereenvolgende naaswenners in die krieketwêreldbekertoernooie van 2007 en 2011 en naaswenners in die T20I-wêreldbekertoernooie in 2009 en 2012. Die Sri Lankaanse krieketspan hou op die oomblik ’n paar wêreldrekords, insluitend die rekord vir hoogste spantotale in al drie vorms van die spel: toets-, eendag- en Twintig20-wedstryde. Vier voormalige Sri Lankaanse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem. Die kolfwerk van Sanath Jayasuriya, Aravinda de Silva, Mahela Jayawardene en Kumar Sangakkara gerugsteun deur die boulwerk van Muttiah Muralitharan, Chaminda Vaas en Lasith Malinga, asook baie ander talentvolle spelers, ondersteun die sukses van Sri Lanka se krieket gedurende die laaste twee dekades.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne