Die breedtegraad (met φ aangedui) is die geografiese koördinaat wat die ligging gee van 'n plek op 'n hemelliggaam (meestal die Aarde) Noord of Suid van die Ewenaar. Die klimaat en weer van 'n streek is grootliks afhanklik van sy breedtegraadligging. Die breedtegraad kan saam met die lengtegraad gebruik word om 'n plek se geografiese ligging aan te dui.
Op Aarde is die breedtegraad 'n hoekmeting wat strek vanaf 0° by die Ewenaar tot 90° by die pole, met die byvoeging van noorderbreedte (in die Noordelike halfrond) of suiderbreedte (in die Suidelike halfrond). Ander belangrike breedtesirkels is die Kreefskeerkring by 23°27′ Noord, die Steenbokskeerkring by 23°27′ Suid, die Arktiese Sirkel by 66°33′ Noord en die Antarktiese Sirkel by 66°33′ Suid. Slegs by liggings tussen die twee keerkringe is dit moontlik vir die son om reg bo in die lug te wees. Slegs Noord van die Arktiese sirkel of Suid van die Antarktiese sirkel is die middernagson moontlik.
Alle liggings teen 'n gegewe breedtegraad word saamgegroepeer op 'n breedtelyn of parallel, omdat hulle in dieselfde vlak lê en al hierdie vlakke ewewydig aan die Ewenaar is. Breedtelyne buiten die Ewenaar is naastenby klein sirkels op die oppervlak van die Aarde; hulle is nie geodesieke nie, omdat die kortste pad tussen twee punte op dieselfde breedtegraad weg van die Ewenaar moet buig.
Die breedtegraad bepaal rofweg die geneigdhede in klimaat, poolligte, heersende winde en ander fisiese eienskappe van 'n geografiese ligging.
Elke breedtegraad is verder onderverdeel in 60 "boogminute". In navigasie kan 'n minuut onderverdeel word in tiendes (of, voorheen, "boogsekondes"). Só kan 'n volledige breedtegraad as 23°27.5′ S voorgestel word.
'n Spesifieke breedteligging kan dan met 'n spesifieke lengteligging gekombineer word om 'n presiese posisie op die Aarde se oppervlak aan te dui.
Een boogminuut van breedte is omtrent een seemyl.
Ko-breedtegraad is die komplement van 'n breedtegraad.