Die Groot Depressie was 'n wêreldwye ekonomiese ineensinking van 1929 tot 1933. Die tydstip waarop dit die verskillende lande getref het, het verskil, maar in die meeste lande het die Groot Depressie in 1929 begin en tot in die laat 1930's voortgewoed.[1] Dit was die langste, mees intense en mees wydverspreide depressie van die 20ste eeu.[2] Die Groot Depressie word oor die algemeen as voorbeeld genoem om te wys hoe ver die wêreldekonomie agteruit kan gaan.[3]
Die ineenstorting van die Wall Street-aandelebeurs op 29 Oktober 1929 het regstreeks gelei tot die ekonomiese insinking toe Amerikaanse lenings aan Europa beëindig is en sakevertroue wêreldwyd drasties afgeneem het. 'n Groot Oostenrykse bank het ook in duie gestort, wat destabilisering in Sentraal- en Oos-Europa tot gevolg gehad het.
In Suid-Afrika het die Pakt-regering onder die eerste minister, genl. J.B.M. Hertzog, hardkoppig geweier om Brittanje se voorbeeld te volg en van die goudstandaard afstand te doen omdat die regering wou bewys dat Suid-Afrika 'n onafhanklike staat was wat sy eie besluite kon neem. Dit het die uitwerking van die depressie vererger deur die uitvloei van kapitaal uit die land aan te moedig en 'n afname in uitvoere te vererger.
Suid-Afrika het uiteindelik in 1932, deels danksy die ingryping en pleidooie van adv. Tielman Roos, toegegee en die goudstandaard laat vaar. As grootste goudprodusent ter wêreld het dit onmiddellik meegebring dat die goudprys gestyg het en die afwaartse neiging in die ekonomie is omgekeer. 'n Lang tydperk van ekonomiese groei het gevolg wat eers tydens die insinking ná die Tweede Wêreldoorlog ten einde geloop het.