Gletser

Tschiervagletser en Piz Bernina-bergspits in Switserland
Die Perito Moreno-gletser in Patagonië, Suid-Argentinië is in die Unesco-wêrelderfenisterrein van die Nasionale Los Glaciares-park geleë

'n Gletser (afgelei van Switsers-Duits Gletscher, 'n term wat op sy beurt ontleen is uit die Latynse woord vir ys, glacies[1]) is 'n uitgestrekte stroom vloeiende ys wat oor honderde jare in hoër geleë terrein met sterk sneeuval en lae temperature dwarsdeur die jaar (en dus hoofsaaklik in die berggebiede van die Aarde) gevorm is. As gevolg van die swaartekrag begin 'n stroom van ys beweeg en stadig bergaf vloei. Gletsers is in wese min of meer permanente massas ys en gekompakteerde (verdigte) sneeu wat diep en swaar genoeg geword het om onder hulle eie gewig (en die druk wat daaruit voortspruit) te begin vloei. Naas bevrore water bevat gletsers ook sekere hoeveelhede van mineraliese en organiese materiaal soos klippe en korreltjies fyngemaalde klip, sand, stof, plantstukkies en lugborrels wat daarin ingesluit is.

Gletsers toon sekere ooreenkomste met riviere sodat na hulle dikwels as "riviere van ys" verwys word.[2] Hul laagste gedeelte is gewoonlik in 'n omgewing met hoër temperature geleë waar die ys begin smelt.

Gletsers kom op alle vastelande voor, en hulle verteenwoordig die belangrikste reservoir van varswater op ons planeet. Daar is twee hoofsoorte gletsers:

  • Gletsers in die gematigde klimaatsones vorm gewoonlik teen steil bergwande. Na hulle word verwys as berg-, vallei- of Alpynse gletsers.
  • Gletsers kan alternatief uit ysplate bestaan wat in oop en plat terrein vorm en in alle rigtings begin uitbrei. Antarktika en Groenland is die enigste gebiede waar kontinentale gletsers gevorm het wat byna die hele vasteland bedek. Maar ook gletsers, wat op binnelandse plato's gevorm het, val in hierdie kategorie.

Geologiese kenmerke, wat deur gletsers geskep word, sluit eind-, grond- en tussenmorenes in, wat uit rotse en ander materiaal, wat deur gletsers beweeg word, gevorm word; U-vormige valleie en cirques digby hulle oorsprong, en die gletserrand in, waar die gletser tot water gesmelt het.

  1. (de) www.wissen.de: Gletscher. Besoek op 10 Maart 2020
  2. (en) Alaska Centers - Public Lands Information: Glaciers. Besoek op 10 Maart 2020 Geargiveer 29 April 2020 op Wayback Machine

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne