Sowjetunie

Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke
Союз Советских
Социалистических Республик
Sojoez Sowjetskich
Sotsialistitsjeskich Respoeblik



1922 – 1991
Vlag Wapenskild
Vlag Wapen
Leuse: Пролетарии всех стран, соединяйтесь!
Proletarii fsech stran, sojedinjaites'!
(Russies vir: "Werkers van die wêreld, verenig!")
Volkslied: Die Internasionale (1922–1944)

Госуда́рственный гимн Сове́тского Сою́за (1944–1991)
(tr.: Gosoedarstwenni gimn Sowjetskowo Sojoeza)
(Russies vir: "Volkslied van die Sowjetunie")
Ligging of Sowjetunie
Ligging of Sowjetunie
Die Sowjetunie op sy grootste tydens die Koue Oorlog
Hoofstad Moskou
Taal/Tale Russies
Regering Republiek
Staatshoof
 - 1917–1924 Wladimir Lenin
 - 1924–1953 Josef Stalin
 - 1953 Georgi Malenkof
 - 1953–1964 Nikita Chroesjtsjof
 - 1964–1982 Leonid Brezjnef
 - 1982–1984 Joeri Andropof
 - 1984–1985 Konstantin Tsjernenko
 - 1985–1991 Michail Gorbatsjof
Wetgewer Opperste Sowjet
Historiese tydperk 20ste eeu
 - Stigting 30 Desember 1922
 - Ontbinding 26 Desember 1991
Oppervlakte
 - 1991 22 402 200 km2
8 649 538 sq mi
Bevolking
 - 1991 skatting 293 047 571 
     Digtheid 13,1 /km² 
33,9 /sq mi
Geldeenheid Russiese roebel
Voorafgegaan deur
Opgevolg deur
Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek
Transkaukasiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek
Oekraïense Sosialistiese Sowjetrepubliek
Wit-Russiese Sosialistiese Sowjetrepubliek
Armenië
Azerbeidjan
Estland
Georgië
Kasakstan

Die Sowjetunie (Сове́тский Сою́з, Sowjetski Sojoez, ), amptelik die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR) (Сою́з Сове́тских Социалисти́ческих Респу́блик (СССР), Sojoez Sowjetskich Sotsialistitsjeskich Respoeblik (SSSR), ), was 'n staat wat van 1922 tot 1991 bestaan en 'n groot deel van Eurasië beslaan het.

Dit was 'n vlagskip- kommunistiese land en het teen die einde uit 15 nasionale republieke bestaan; in die praktyk was sy regering en ekonomie tot met sy laaste jare in 'n groot mate gesentraliseer. Dit was 'n eenpartystaat wat deur die Kommunistiese Party van die Sowjetunie regeer is, met Moskou as sy hoofstad en ook dié van die grootste republiek met die grootste bevolking: die Russiese SFSR. Ander groot stede het ingesluit Leningrad (Russiese SFSR), Kiëf (Oekraïense SSR), Minsk (Wit-Russiese SSR), Tasjkent (Oezbekistanse SSR), Alma-Ata (Kazachstanse SSR) en Nowosibirsk (Russiese SFSR). Dit was die grootste land ter wêreld, met 'n oppervlakte van 22 402 200 km2 oor 11 tydsones.

Die land se oorsprong lê in die Oktober-rewolusie van 1917. Die Bolsjewiste het die tussentydse regering omvergewerp wat vroeër dié jaar gestig is ná die Februarie-rewolusie en die abdikasie van tsaar Nikolaas II. Dit het die einde van die Russiese Ryk ingelui. Die nuwe regering, onder Wladimir Lenin, het die Russiese SFSR gestig, wat die wêreld se eerste sosialistiese staat was wat in die grondwet gewaarborg is. Volgehoue interne spanning het tot die wrede Russiese Burgeroorlog gelei. Namate die oorlog in die Bolsjewiste se guns beklink is, het die RSFSR begin om grond wat in die oorlog verower is in te sluit in nominaal onafhanklike state, wat in Desember 1922 in die Sowjetunie verenig is.

'n Sowjetseël van 1957 wat Spoetnik 1 se wentelbaan toon.
'n Seël van 1987 ter viering van 'n kernverdrag tussen die USSR en VSA.

Ná Lenin se dood in 1924 het Josef Stalin aan die mag gekom. Stalin het 'n tydperk van vinnige industrialisasie en gedwonge kollektivisme begin wat tot aansienlike ekonomiese groei gelei het, maar ook tot 'n hongersnood in 1930-1933 waarin miljoene dood is. Die strafkampstelsel Goelag is ook in dié tyd uitgebrei. Stalin het die Groot Suiwering begin om sy werklike en denkbeeldige teenstanders uit die weg te ruim. Ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland die Sowjetunie binnegeval. Die gesamentlike burgerlike en militêre sterftes van die Sowjetunie – wat op sowat 20 miljoen geraam is – was die grootste verlies van die Geallieerde magte. Ná die oorlog het die gebied wat deur die Rooi Leër beset is, verskeie Sowjet-satellietstate gevorm.

In die daaropvolgende Koue Oorlog het die Oosblok van die Sowjetunie die Wesblok van die Verenigde State van Amerika gekonfronteer, met laasgenoemde groepering wat in 1949 onder Navo grootliks verenig is, en eersgenoemde in 1955 onder die Warskouverdrag. Daar was geen regstreekse militêre konfrontasie tussen die twee organisasies nie; die konflik het eerder op 'n ideologiese grondslag en deur oorlog by volmag plaasgevind. Beide Navo en die Warskouverdrag het gelei tot die uitbreiding van militêre magte en hulle integrasie by die respektiewelike blokke. Die Warskouverdrag se grootste militêre operasie was die inval in Tsjeggo-Slowakye, sy eie lidland, in Augustus 1968 (met die deelname van al die ander lidlande buiten Albanië en Roemenië). Die gevolg was dat Albanië minder as 'n maand later aan die verdrag onttrek het. Ná Stalin se dood in 1953 het 'n tydperk van de-Stalinisasie plaasgevind onder die leierskap van Nikita Chroesjtsjof.

Die Sowjetunie het die voortou geneem in die vroeë ruimtewedloop met die lansering van die eerste kunsmatige satelliet, Spoetnik 1; die eerste bemande ruimtevlug, Wostok 1; en die eerste tuig wat op 'n ander planeet (Venus) geland het, Wenera 7.

In die 1970's was daar 'n kort détente in die verhouding tussen die Sowjetunie en die VSA, maar spanning het in 1979 weer toegeneem met die Sowjetinval in Afganistan. In die middel 1980's het die Sowjetleier, Michail Gorbatsjof, die land probeer hervorm deur sy beleide van glasnost en perestroika. In 1989, in die laaste fases van die Koue Oorlog, het verskeie lande van die Warskouverdrag hulle Marxisties-Leninistiese regerings omvergewerp, en dit het gepaard gegaan met die ontstaan van sterk nasionalistiese en separatistiese bewegings oor die hele Sowjetunie. In 1991 het Gorbatsjof 'n nasionale referendum uitgeroep, wat geboikot is deur die Sowjetrepublieke Litaue, Letland, Estland, Armenië, Georgië en Moldawië. Dit het daartoe gelei dat die meeste deelnemende burgers gestem het vir die behoud van die land as 'n hernude federasie. In Augustus 1991 het onbuigsame lede van die Kommunistiese Party 'n staatsgreep teen Gorbatsjof gelei. Die poging het misluk, met Boris Jeltsin wat 'n groot rol daarin gespeel het, en die Kommunistiese Party is daarna verbied. Die Russiese Federasie het die opvolgerstaat van die Sowjetunie geword, terwyl die ander republieke almal onafhanklik geword het.

Die Sowjetunie het baie sosiale en tegnologiese prestasies behaal: Dit het die tweede grootste ekonomie in die wêreld gehad en sy weermag was die grootste op aarde. Dit het die grootste arsenaal kernwapens gehad. Dit was 'n stigterslid van die Verenigde Nasies en een van die vyf permanente lede van die VN se Veiligheidsraad. Voor sy verbrokkeling het die land sy status as een van die wêreld se twee supermoondhede gehandhaaf met sy leierskap in Oos-Europa, sy militêre en ekonomiese krag en sy wetenskaplike navorsing.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne