Kalender

Beeld van 'n Desember kalender.
'n Joodse kalander van 1831

'n Kalender is die kunsmatige indeling van tyd in kleiner en groter eenhede, gegrond op sterrekundige verskynsels. Die kleinste kalender-eenheid, naamlik 'n dag, berus op die wenteling van die Aarde om sy eie as. 'n Maand berus op die wenteling van die Maan om die aarde en 'n jaar op die aarde se kringloop om die son, wat met ʼn volle seisoensiklus gepaard gaan.

Die woord kalender is ontleen aan ʼn Griekse woord wat "uitroep" beteken aangesien die priesters fees- en vastye asook nuwe mane op die wyse afgekondig het. Die -man- in almanak kom uit Arabies en beteken "maan". Die Midde-Ooste was die ontstaanpunt van die maankalender en die meeste van die ou beskawings het aanvanklik die tydsindeling gevolg. Daar was egter nie genoeg voltooide "maanmaande" om in 'n jaar te pas nie, en die son is later as soortgelyke maatstaf gebruik. In die "sonjaar" vorm die getal dae egter nie 'n heelgetal nie, en die kalender was dus effens uit pas met die seisoene.

Ten einde die natuur se kringloop so na as moontlik te volg, is die sterre ook later ingespan. In die Westerse beskawing word die Gregoriaanse kalender gebruik met 365 dae in 'n kalenderjaar en 366 al om die vier jaar ('n skrikkeljaar). Uitsonderings op die skrikkeljaar is die eeujare wat nie deur 400 deelbaar is nie, asook jaartalle wat wel deur 4 000 deelbaar is. Die kalender is so akkuraat dat die berekenings oor 'n tydperk van 30 eeue net een dag uit pas sal wees met die natuur.

Hoewel die kalender as vanselfsprekend aanvaar word, is dit die mensdom se belangrikste dokument. Dit dateer gebeure, verskynsels en geleenthede op ʼn betroubare manier en speel dus ʼn belangrike maatskaplike rol. Die huidige Westerse kalender het steeds gebreke, byvoorbeeld die ongelyke indeling van maande, die gedurige wisseling van die weekdae met betrekking tot die datums van die maand en die aantal breukweke in 'n jaar. Maandelikse statistiek word hierdeur erg bemoeilik. Verskeie wysigings en vereenvoudigings is reeds in die afgelope twee eeue voorgestel, wat, hoewel prakties uitvoerbaar, waarskynlik moeilik toegepas sal kan word vanweë die diepgewortelde gebruik van die huidige kalenderstelsel.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne