Verenigde Nasies

Vlag van die Verenigde Nasies
Die Verenigde Nasies se hoofkantoor in New York, VSA
Embleem van die Verenigde Nasies
Genl. Jan Smuts, indertydse eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, het die aanhef tot die grondwet van die Verenigde Volke-organisasie, soos dit destyds in Afrikaans geheet het, opgestel

Die Verenigde Nasies (Arabies: الأمم المتحدة, Chinees: 联合国, Engels: United Nations, Frans: Organisation des Nations unies, Russies: Организация Объединённых Наций, Spaans: Organización de las Naciones Unidas), of VN, is 'n internasionale organisasie wat 193 lidlande behels.[1] Amper alle internasionaal-erkende lande is lede. Daar is twee waarnemers van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies wat nie lid is van die Algemene Vergadering nie: die Heilige Stoel (wat soewereiniteit oor die Vatikaanstad hou) en die Staat Palestina.[2]

Die VN is gestig ná die Tweede Wêreldoorlog op 24 Oktober 1945 in San Francisco ná die Dumbarton Oaks Konferensie in Washington, D.C., maar die eerste sitting van die Algemene Vergadering met 51 nasies verteenwoordig, is eers gehou op 10 Januarie 1946 in Church House, Londen. Die Verenigde Nasies is die direkte opvolger van die voormalige Volkebond, wat op 18 April 1946 ontbind is. Die organisasie se hoofkantoor is in United Nations Plaza in New York, Verenigde State. Die VN het kantore in Genève, Wene en Nairobi.

Die amptelike tale is Arabies, Chinees, Engels, Frans, Russies en Spaans, waarvan Engels en Frans werkstale is.[3] Die vyf permanente lede van die VN se Veiligheidsraad, wat die mag het om resolusies te veto, is Frankryk, Rusland (tot 21 Desember 1991 as die Sowjetunie), die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State en die Volksrepubliek China (tot 25 Oktober 1971 die Republiek China). Niepermanente lede is tans Ecuador, Japan, Malta, Mosambiek en Switserland vir 2023–24[4] en Algerië, Guyana, Sierra Leone, Slowenië en Suid-Korea vir 2024–25.[5] Daar is sterk steun vir 'n vergroting van die Veiligheidsraad en die uitbreiding van die vetoreg aan ander lande om die wêreld van vandag te weerspieël, maar ondanks inisiatiewe deur die G4-lande, Brasilië, Duitsland, Indië en Japan, asook vanuit die geledere van die Afrika-unie, kon eenstemmigheid hieroor steeds nie bereik word nie.[6]

Die doel van die organisasie is die fasilitering van samewerking rakende internasionale wetgewing, internasionale sekuriteit, ekonomiese ontwikkeling, maatskaplike vooruitgang, menseregte en internasionale reg. In 2001 het beide die Verenigde Nasies en die destydse sekretarisse-generaal Kofi Annan die Nobelprys vir Vrede ontvang.[7]

  1. (en) "Member States". Verenigde Nasies. Besoek op 1 Januarie 2024.
  2. (en) "Non-member States". Verenigde Nasies. 7 Augustus 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Januarie 2020. Besoek op 1 Januarie 2024.
  3. (en) "General Assembly of the United Nations – Rules of Procedure". Verenigde Nasies. Besoek op 1 Januarie 2024.
  4. (en) "Five countries elected to serve on UN Security Council". Verenigde Nasies. 9 Junie 2022. Besoek op 1 Januarie 2024.
  5. (en) "UN Security Council to welcome five new non-permanent members". Verenigde Nasies. 6 Junie 2023. Besoek op 1 Januarie 2024.
  6. (en) "Japan Says No to G4 Bid". Global Policy Forum. 7 Januarie 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2021. Besoek op 1 Januarie 2024.
  7. (en) "The Nobel Peace Prize 2001". Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Augustus 2018. Besoek op 1 Januarie 2024.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne